‘n Dag in die lewe van Pagoda

Rihanna laat waai met haar treffer en soos blits skiet ‘n vuurwarm hand onder die komberse uit, gryp die foon en smoor hom met geoefende akuraatheid onder die kopkussing.  Die Nokia is gestrooi met knoppe…een van daai wat lyk asof dit tuis hoort in die kajuit van Challenger 14, maar die maande het die vingers goed geleer en sonder om eers ‘n ooglid te roer word die regte knop gedruk om haar skril stem onder beheer te kry.  Snooz…die term vir die nuwe millennium. 

 

Ek stel my wekker / selfoon altyd vir 25 minute vroeer as wat nodig is vir my om op te staan want tyd het my geleer dat die snooz siklus 25 minute neem om uitgewerk te raak.  Gaan 4 keer af in daai tyd, en elke keer weier Rihanna om die musiek te laat stop.

 

Teen 6:30 word die swaar eendveer duvet soos ‘n vrot vel regs geslinger.  Ek’s ook maar vrek dankbaar dat dit swaar is want daardie move moes seersekerlik my vrou elke oggend yskoud gelaat het as dit enigsins ‘n paar gram ligter was.  Vir ‘n vlietende oomblik word die dae getel waarop ek so opgestaan het en dan sak my moed in my skoene…dis Maandag.  Die laaste keer wat ek so gesit het was Vrydag…so met onderbroek en deur-die-stront-gevreetjie.

 

Pakkie entjies en die foon in die hand suiker ek na die badkamer en hou myself besig met snoeker of Simcity terwyl die natuur oorvat.  En met afwagting word die stortgordyn dopgehou want die warm lafenis wat daarin wag kan nie gou genoeg kom nie.

 

Een twee drie en ek soek met ‘n stomende lyf vir die knoppie langes my bed sodat ek asseblief tog nie weer my hemp agterstevoorom aantrek nie.   Die laaste keer het die donker my verraai en moes ek teen 13:00 die middag toe ek my warm baadjie uittrek agterkom dat die mense nie heeldag vir my geglimlag het oor ek so dem aantreklik is nie, maar eerder oor ek in my domgeid my kraag agterstevoor gehad het.  Met my sak teen my bors…aan die binnekant…

 

Die dowwe lig slaan teen die muur op en die sokkies, onderklere, en dies meer vind hulle pad op die aanbeveelde manier aan my lyf.  Soos ‘n trapsuutjies om die bed en ‘n piksoen teen die warm voorkop van my vrou…dan om na laitie se kamer waar hy droom van oom hippo en tannie sywurm; sy nuwe sagte maatjies langs hom op die kussing.  Hy lê te diep vir my om by te kom so ek sit maar ‘n hand op sy kop en ek voel die lewe deur hom bruis voor ek met ‘n swaar gemoed my pad vat…trap af. 

Gly myself des moers in die donker by die trappe af ja…die skoene voel soos damtrappers onder my sole en die kontrakteur het sekerlik in die vroë 80’s nagelaat om die trappe wyd genoeg te maak, so elke nou en dan trap jy vir een trap maar slet neer vir twee, selfs drie.

 

Raait…sleutels.  Remote vir die hek en bos vir die kar.  OK.  Nou die deur, maar die wetterse honde vergeet gereeld watter kant bo is en tegelykertyd ook sommer watter kant die hek en deur sit.  Opsigself ‘n probleem want vriend kom van die deur af en vyand van die hek.  So na trompetgeskal en ‘n hewige keelopsit is ek by die hek uit.

 

Teen 7 op die pad…ek’s sekerlik laat vandag.  Slaan die N1 teen 7:10…verkeer is lig.  “Dis skoolvakansie” onthou ek en my hart jubel.  7:20 – net voor N1 stad staan alles doodstil en ek bere my partytjiehoedjie want ek gaan nerens vir ‘n rukkie.  En dan neem die onderbewussyn oor. 

 

Soos ‘n droon sit ek…clutch, petrol, clutch, briek…oor en oor en oor en oor…Toe ek myself weer kry sit ek half aan die slaap in die parkeerplek voor my werk.  Net 5 minute laat en ek dink “Dalk is ek nog hier voor my baas…”  NOT!!!

 

Stap in en die wereld lyk of Enola Gay oor hom gevlieg het en ‘n hele arsenaal van Oom Bush se speelgoed oor hom gestrooi het.  Rekenaar parte staan orals.  Muise, keyboards, skerms, bokse…die lot….met een groot doos vol kabels.  Die renovasies het veroorsaak dat alles moes skuif…en oornag het die plek ‘n gedaanteverwisselling ondergaan.  Nou staan almal soos poppe met Hitler in die hoek en maak parte skoon met Mr Min en los lappies.  En kiepie spring in…

 

Kyk…gee my ‘n balansstaat om op te rek, vra my om ‘n inkomsteprojeksie vir 4 jaar uit te werk en dit so belastingeffektief moontlik te doen…dit alles en ek’s met jou al die pad.  Stop my ‘n geel lap in die hand en ‘n bottel windowlene en ek kry so uitdrukking oor my gesig wat Forest Gump na Albert Einstein sal laat lyk.

 

Ten minste is die marteling van korte duur.  Teen 9 uur vind ek myself kniediep in krediteure.  En ek hou van baklei.  Maak die ouens behoorlik regop sit.  Jy gaan my nie uit R2 bedrieg nie, nie eers op ‘n kredietnota van R500 000 nie.

 

Tussendeur hou ek ‘n oog op die blog, loer na my seun op my selfoon, praat met my vrou oor wat ek vir aandete wil hê.

 

17:00 kom genadiglik vinnig en my motor is my hawe.  Vir die volgende 45 minute is ek weereens breindood.  Behalwe vir die 3 minute wat Whackhead Simpson my entertain met sy Dr Phil soundboard en iemand weerens vir ‘n liederlike gat vat.

 

Teen 17:45 stop ek in skemerte gehul voor my huis.  Dis die Kaap en goddank raak dit nie teen vroeër al donker nie.

 

Ek stap in en die wereld lyk asof Oom Bush sommer nou die volgende briefie van my gaan kry:

 

“Liewe Oom Bush

 

Ek is nie ‘n kommunis nie.  Nog minder weet ek van enige weapons of mass destruction.  Die enigste groot wapens wat ek van weet is die landmyne wat my honde los buite my deur, maar alhoewel jy jouself lekker sal uitkak as jy daarin trap (excuse the pun) sal ek nou nie sê dis nodig om jou vlieniers die verkeerde ko-ordinate te gee sodat hulle my voorhuis moet kom bom nie.

 

Ek laaik Mugabe niks, het boggerol met Mbeki uit te waai nie, ens…ens…ens…”

 

Die reuk uit die kombuis sus my gemoed.  Tussen bondels klere vaar ek deur tot ek die verwelkoming van die kombuis bereik en dit ruik hemels.  Niks het gekom van my gebraaide hoender wat ek wou gehad het nie, maar daardie groenboonbredie ruik verskriklik lekker.  En na my vrou my gevry het en die laitie sy pond vleis by my gekry het lê ek weg aan daardie stowe bees en bone en hou een oog opdie stomende koppie koffie wat wag.

 

En die sports begin.  Dis die eerste dag van die res van Jacques se lewe.  Ja, hy gaan vandag die eerste keer iets anders as nippeljuice kry om te eet.  Die bak Purity ryspap word gemaak.  Die ogies le groot en koekeloer oor die rand van die prêm.  En daar gaat hy! 

 

Hap sommer sulke stukke uit die lepel.  Mond gaan amper motories oop as die lepel net die bakkie verlaat.  En voor ons ons kan kry is daardie bakkie leeg…terwyl die helfte daarvan op sy gesig sit!

Dit het twee lappies gevat om sy gevreetjie skoon te kry…en ek voel hoe sak daai gevoel van De Ja Vu oor my en ek dink onverduidelikbaar aan die feit dat ek iets skoonmaak sonder Mr Min.

 

Teen 20:00 is alles stil.  Magie vol en ogies toe.  Mamma kyk met sulke leepogies na my en ek weet sy het die keer meer as net ‘n broek vol planne vir my. 

Ek wonder hoe mense dit regkry om meer as een kind te hê?  Die eerste is veronderstel om vir die res van sy / haar lewe as natuurlike voorbehoedmiddel te kan dien want soos klokslag, nes ek laitie se baba olie annekseer om sommer nou vir mamma sensueel te masseer, toe klink dit asof die Fillistyne oor die heuwels kom.  En peester gooi ‘n Pulp Fiction move en gaan van op-aandag tot drug-induced-retard in 3 sekondes flat.

 

Dis nou 21:30 en die outjie sukkel om aan die slaap te raak.  Mamma wieg hom deurmekaar en die enigste ding missing op daai boot is Jack Sparrow.  Sy het haar redes vir gou maak, maar ongelukkig laat ta homself nie voorskryf nie.  Ek dink onwillekeurig aan die feit dat ek heel waarskeinlik vanaand teen 22:30 my eie moeë oë gaan toemaak en van mamma gaan vergeet.

 

En net vir good measure gaan ek vanaand my ringtone verander want as Rihanna moreoggend weer moet sê “please don’t stop the music” gaan ek haar vinnig van die boonste vloer ‘n skielike stop op die grond gee.

 

Ja nee…more is Dinsdag…

 

16 Responses

  1. Ja O.K.
    Ek weet dis lank…

  2. Fokkit maar dis `n mondvol en mens kan nie glo dis alles in een dag nie, maar as mens so daaraan dink is dit moontlik om `n volledige boek te skryf wat net oor een dag handel, dink hoe lank sou die stuk gewees het as klein Pagoda jou pret met ma nie bederf het nie.

    Nee kyk jy beskik oor goeie waarnemings vermoe.

  3. Hehe, goed geskryf Pagoda, wat is jou nuwe ringtone nou? 🙂

    Onthou om mamma daaraan te herinner om nooit iets nuut met baba Pagoda te try in die aand nie. Gee liewers nuwe medisyne of melkformules of enige nuwe kosse vroeg in die oggend.

    Sorry, wil nie soos ‘n oumatjie klink nie…..

  4. Ek beaam, fokkit, ek kan nie glo dit is 1 dag nie!😆 @ koeksuster..klink egter na ‘n wenplan!

  5. Smile. Dankie vir hierdie kykie in die lewe van die Pagodas. Ek het dit vreeslik geniet. Jy is so in die kol met die breindood oppad werk toe, en huis toe. Partykeer stop ek by die huis en wonder hoe het ek daar gekom, want ek kan nie eens mooi onthou watter pad ek gery het nie. Mens dink darem aan ‘n honderd verskillende goete so in die ry, en ek geniet ook Whackhead in die oggend en lag partykeer kliphard. Dan loer ek maar so na die ou in die kar langs my om te sien of hy my met simpatie bestudeer.

    En my ringtone is Justin Timberlake (of liewer Timberland) se “The way you are”, en jy het geen idee hoe irriterend daai rapperige musiek op jou nugter maag is nie. Gaan myne ook verander!

  6. Het die skrywe baie geniet. Ek sien al hoe val jy van daai trappe af oppad kar toe..hehe.
    My kinders is al baie groter en ek het al vergeet hoe “ontydig” die kindertjies kan moeilik raak.

    Koeksister slaan die spyker op die kop.

  7. My ringtone is ‘n viskatrol se geluid, blerrie irriterend, maar ek hoor dit ‘n myl vêr, hehe

    Sodra my sel afgaan, maak my man of ‘n vis inkatrol, ek lag my elke keer vrek vir hom.🙂

  8. Donner pagoda. Ek wonner nou of jy ooit tyd kry om kinky te wees met mamma. My selfoon se ringtone is: Punkrocker – ek weetie wie sing dit nie. As my man bel dans dit Weeskind en my sus en my ma het ook hulle eie ringtone. Die mense wie ek nie like nie en wat nie die blou bulle like nie, het ek die bloubul song op. Hehehehehehhehehehe. Ek het hom sommer vir Pagoda ook op virre bloubul song. bwhahahahahahahhahahahaha

  9. So van die Bloubulsong gepraat het julle gesien hoe het Vickus van der Merwe vir Steve afgepie oor die song op Dis hoe dit is?Hy het spontaan en sonder om doekies om te draai gese hys GATVOL vir daai song.En ek OOK!!!!!

  10. Ek het gistraand gekyk. Dit was nogal snaaks. Steve het nie eintlik geweet wat om te sê nie toe gaan hy maar net na die volgende vraag. Het lekker gelag.

  11. Hehehehehe jip ek het gesien, maar wat vir my die beste is as die persone bel wie se nr gekoppel is aan daai song dan wag ek ekstra lank ommit te antwoord, dan se ek sommer mettie antw slag, ag sorry ek luister gou bietjie na die bloubulsong. Hiehiehiehiehie. Brein: email!!!!!!!!!!!!!!

  12. hehehe Phibbs! Slim idee, ek hou daarvan.
    Ek bly ook nog altyd ‘n Bul!

  13. Hulle se mos revenge is sweet Koekie en daarna om hulle te vertel dat ek dit sommer nou hulle song gemaak het, ek kan jou se eks beslis nie op hulle gewildsheidlysie nie

  14. Phibbie now ur ruin da frendship.

  15. bwhahahahahahahhahahaahha never nie Breintjie never nie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: