Jakkalsgif – Van Masharona

Masharona stuur dit vandag deur:

Goeiemore Pagoda

My dierbare jarelange vriendin stuur vanoggend vir my hierdie stukkie deur Prof Werner Olivier – ek het omtrent op die vloer gelê soos ek gelag het – natuurlik omdat ek soveel waarhede en persoonlike situasies kon identifiseer daarin.

JAKKALSGIF is bietjie lank om te plaas as ‘n “comment” – miskien wil jy dit gebruik as ‘n “posting”.

Vriendelike groete

Sharon (masharona)

JAKKALSGIF

NÁ die seisoen van konfetti en trou-albums en katelbreektyd ontwaak ‘n nuwe

seisoen in die grootste gros huwelike. Dis die tyd wanneer kinders inbars en

alles omgedolwe word. Geld, tyd en rus is min. Vurige twiste en

noord-suid-opinies is volop. Wat eens lekker geruik het, word ‘n stank. Wat

mooi was, word afskuwelik. Wat slim geklink het, word beterweterigheid.

Soetlemoene verander in bitterappeltjies.
Dan, so 20 of wat jaar ná die konfetti-dag, wanneer die kuikens hoenders

word en in hul eie weiland begin skrop, daag ‘n ander seisoen op. Jeuktyd,

kraptyd, byttyd, skaaftyd. Dis dan wanneer die huweliksbed se voeë begin

meegee en die wiekelende konstellasie dreig om vloer toe te tuimel.
Ná jare van geldstryd en kinders grootsukkel, sit die eens uitspattig-

gelukkige huwelikspaar met mekaar opgeskeep. Bykans vreemdelinge. Of vyande.

Buitentoe lyk alles wel. Almal glo dit gaan góéd met ons. (‘Ons’ is ‘n

versamelnaam vir wie ook al aan die versameling wil behoort). Ons hét alles

en ons lag en kuier, sing kerkkoor, stap met die hond, hou vakansie, koop

saam-saam kruideniersware. Oënskynlik die perfekte verbintenis.
Maar agter die voordeur waar niemand sien of hoor nie, staan die pitsweer ‘n

goudgeel punt. Barstens gelade met sarkasme, sinisme, ondankbaarheid,

erbarmloosheid, humorloosheid. Ons is áltyd gereed om te verskil en te

beskuldig; te pik en te amputeer. Ysstiltes en ‘n vrot atmosfeer is aan die

orde van die dag.
En daar hang ons in die slagyster. Skei kan ons nie, want dis ‘n geval van

my kombers en jou matras en daar lê die ding. ‘n Huweliksberader wíl ons

nie, want niemand het energie vir ‘n ellelange dermuitrygery nie. Dan maar

deurdruk, hoe gallerig ook al. Solank niemand ontdek wat agter die

gordynvoerings aangaan nie. Om te kompenseer vir die yskaslewe, pak ons

allerhande vernietigende handvuurtjies aan vir hitte. Affairs, drank, pille,

pornografie, koopsiekte, vreetsiekte, verenigings, oorgodsdienstigheid,

werkoholisme. En noem maar op.

Ek en die ou gryse het al deur baie driwwe geswem. Enkeldiepte, borsdiepte,

en soms watergetrap. Dat ons mekaar nie jakkalsgif ingegee het nie, bly ‘n

mirakel. En toe, tydens een van ons doodbliksem-gevegte, kom ons op die

kwessie sowel as die oplossing af. Ek sê nie dit sal vir almal werk nie,

maar vir ons het dit.
Die kwessie: Spasie. In sy wese bly die mens ‘n eenling. Hy wil ‘n sirkel om

hom kan trek; ‘n spasie waaroor hy, en hy alleen, baasskap het. En die

huwelik het ‘n rare manier om die mens sy eenlingskap te ontneem. Dis ‘n

cliché om te sê die huwelik is ‘n eenwording van twee mense. Want twee mense

kan nooit één word as elke eenling nie ‘n heel mens op sy eie is nie. En as

die mens van sy spasie beroof word, raak hy soos ‘n hondsdol hond wat alles

byt.
Die oplossing: spasie. Só baklei ek en die ou gryskop doerie tyd amper tot

by die bottel jakkalsgif. Uit beboosdheid trek hy met klere, boeke,

lessenaar en spanners na die spaarkamer op die boonste verdieping. En dáár

bly hy vandag nog. Wat destyds ‘n ek-bliksem-jou- sommer-dood-aksie was, het

geblyk die antwoord te wees.
Sy kamer is syne. My kamer is myne. Hy kan snork en poep en televisie kyk

wanneer hy wil. Ek kan snags my bedliggie aansit en slaapkouse brei as iets

my ry. Ek kan dwars oor die bed slaap, en hy kan besluit hoeveel komberse hy

oor hom wil hê. Niemand besweet niemand, en daar is nooit ‘n nagtelike

gestry nie. En dis salig om uitgerus wakker te word sonder ‘n kierie teen

jou rug. Of sonder ‘n redeloos beneukte vrou langs jou. Die saligste bly die

op- en afsluipery met die trap. Soos outydse court. Sondagmiddag gaan lê ek

in sy arm. Of ek skrik middelnag wakker as hy fluistervra of hy agter my rug

kan lê, want hy verlang na my. Om boontoe te SMS dat ek my man in my kooi

soek, of om sy brekfis trapop te dra en te gaan sê hy’s my koning.
Nou se dae kan nie ek óf hy onthou waar ons die jakkalsgif gebêre het nie.

Want ek het my kombers en hy het sy matras. En nêrens lê ‘n ding nie.

[Olivier, Prof Werner]

11 Responses

  1. Hi Pagoda,
    Net ‘n klein regstelling: hierdie stuk is uit Annelie Botes se bundel “Broodsonde”, Tafelberg Uitgewers, 2006. Die titel is “My kombers en jou matras”. Ek wou sê dit klink alte bekend! Geniet die res van die naweek🙂

  2. Ai tog

    Kopiereg kwessies …hier kom ons…

    Wonner of Google mens sal kan se wanneer mens ‘n search doen?

  3. Hoop nie jy gee om vir die regstelling nie…

    Ek het dit net interessant gevind want is groot “fan” van Annelie, ken haar skryfwerk baie goed. En ons het al saam ‘n glasie wyn gedrink by haar meenthuis in PE 😉

    Twyfel eintlik of Google van hulp sal wees: waaronder soek ‘n mens?

  4. Ek het al gehoor dat dosente by universiteite die studente se tesisse check deur sekere sinsnedes en paragrawe op Google in te tik en te kyk of die student die stukkies “woord vir woord” van ‘n sekere webtuiste afgetrek het.

    Ek wonder net hoe wesenlik dit is om dieselfde te doen met die stukkies wat hier geplaas word?

  5. Pagoda – ek dink dit is ‘n goeie idee. Ek sal beslis in die vervolg so ‘n check doen – op enige toekomstige stukkies wat ek aanstuur. Groetnis.

  6. Thanks Sharona

    Maar laat kom die insetsels “regardless”…dis waarvoor ons hier is! LMGA!

  7. Sharona, Dankie vir die oulike stukkie, dit kan mos nou werk vir honderde daarbuite. Wragtig pragtig.
    Die Annelie Botes stel dit baie goed.

    Lekker dag vir almal.

  8. Ja dis `n classic stukkie, maar die twee mens wat van die begin af nie vir mekaar bedoel nie.

    Ek dink ons moet maar elkeen sy eie ding skryf, dan maak dit die blog uniek en daar is so baie onderwerpe soos byvoorbeeld seks.

  9. Ek het dit baie geniet. Hoe dit ookal sy, dankie Masharona vir die aanstuur daarvan!

  10. Dankie Masharona, dit was nou blerrie nice. Het dit baie geniet.

  11. There are some interesting time limits on this article however I don’t know if I see all of them
    heart to heart. There may be some validity but I’ll take hold opinion till I look into it

    further. Good article , thanks and we want extra! Added to FeedBurner as effectively

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: