Kopiereg. Die fyn lyn…

Ek het ‘n mail ontvang vanuit ‘n baie onverwagse oord.

Hoe dit gebeur het dat sy op die post afgekom het is redelik onduidelik, maar die uiteinde van die saak is basies dat daar “kopiereg” was op ‘n stukkie wat hier geplaas was ongeveer twee maande gelede.  Hier volg haar email:

Aan die Webmeester

Dit is onder my aandag gebring dat u webwerf een van my kort-kortverhale, Alt in die hemelkoor, wat reeds in Mei 2002: 12 – 13 in die Taalgenoot, mondstuk van die ATKV verskyn het, sonder toestemming op u webwerf geplaas het. Daar is enkele spelfoute, tikfoute en aanpassings sonder toestemming gemaak – iets wat vir my as taalkundedosent, verbonde aan ‘n universiteit, totaal onaanvaarbaar is.

Ek glo u, as webmeester (eienaar van ‘n webwerf) is heel vertroud met geregtelike kwessies  soos eiendomsreg, kopiereg en plagiaat, ook met betrekking tot digitale materiaal ( Kopieregwet 98 van 1978 ) en die vra van toestemming van die outeur voordat ‘n stuk op ‘n webwerf geplaas word. Boonop is die stuk van die webwerf af “gecut” en “gepaste” deur een van die internetgebruikers en toe as hul eie aan ‘n Christelike tydskrif gestuur, wat op hulle beurt in ‘n verkorte vorm onder die persoon wat dit aangestuur het, se naam geplaas het.

U kan dus verstaan dat die huidige toedrag van sake vir my totaal onaanvaarbaar is. Indien u die storie op u webwerf wil behou, gee ek vir u hiermee toestemming, maar heg hierby vir u die kort-kortverhaal aan soos dit oorspronklik verskyn het en vra dat u die storie op u webwerf hiermee sal vervang. Ook dat u immers my naam, as die skrywer daarvan, sal bysit, Anders misken dit my intellektuele eiendomsreg.

Dankie vir u samewerking in dié verband.

Groete

Corlietha Swart

Ondervoorsitter: Bloemfonteinse Skrywersvereniging, medewerker/ resensent Volksblad & dosent: UV

Hier volg my antwoord:

Liewe Corlietha

Ek is geheel en al vertroud met die konsep van plagiaat en kopiereg en ek verseker u dat ek die grootste respek vir daardie reg het en NOOIT iets sal plaas asof dit my eie is nie.

Op Die Werf het ons verskeie skrywers wat van tyd tot tyd bydraes lewer wat wissel van pittighede, sake wat na aan die hart lê, alledaagse nuus en ander nonsens praatjies.  Die storie waarna u verwys is geplaas in Junie 2008 deur ‘n skrywer wat nie meer op ons bydraerslys is nie, maar wat heel waarskynlik nog gereeld hier inloer.  Ek weier egter om haar oor die kole te haal vir so iets aangesien daar versagtende omstandighede is.

Eerstens…Ek het self daardie storie in ‘n e-pos ontvang, lank voor dit hier geplaas was.  Waar trek mens die lyn as mens na kopiereg en plagiaat in so ‘n situasie kyk?  Wie is skuldig?  Die heel eerste persoon wat besluit het jou storie is te mooi vir woorde en toe “ge-copy en paste” het en dit vir elke Jan Rap en sy maat aangestuur het, of is dit dalk ELKE persoon wat daarna die e-pos na sy eie vriende, familie en kennisse aangestuur het sonder om die nodige navorsing te gaan doen?

Kopieregwet 98 van 1978 is presies wat sy naam jou sê voor jy selfs na die “vleis en aartappels” van die wet gaan kyk.  Dis oud.  Dit was opgestel in tye toe slingertelefone, poskaarte en briewe aan die orde van die dag was en in ‘n tyd toe afsprake dae vantevore opgestel was en noodgedwonge net moes plaasvind.  In 2008 is e-posse, internet, 3G, HSDPA, selfone, “wireless communication” en dies meer aan die orde van die dag en afsprake word gemaak, gekanselleer en herskeduleer binne die bestek van enkele minute.  As sulks is daardie wet oud en definitief vêr verby sy vervaldatum.

Ek glo nie jy kan enigiemand kwalik neem omdat hulle van die storie gehou het nie.  Dis pragtig.  En kan jy dan daardie persoon kwalik neem as sy gevoel het Die Werf se kuiermense sou dit ook waardeer het?  Ek is baie seker dat daardie persoon met graagte die naam van die skrywer van die stuk sou byvoeg as dit op die e-pos verskyn het, wat duidelik nie die geval was nie.  Probeer volgende keer die ander kant van die muntstuk sien as jyself ‘n onskuldige e-pos aanstuur na familielede en vriende sonder dat jy die oorsprong van die stukkie nagevors het.

Stem ek saam dat jy ‘n punt het?  ABSOLUUT!  Voel ek, dat as ek die skrywer was, ek ongelukkig sou wees om my skrywe op ‘n webwerf te kry sonder dat ek krediet daarvoor gegee was en as ek op die koop toe moes sien hoe dit verkrag was met spelfoute?  DEFINITIEF!  Maar ek sou ook eers onskuldig navraag doen voor ek my literêre spiere sou wys en ek die eienaar van so ‘n webwerf sou bewus maak van wetgewing.  Dit is allermins 2008, en nie 1978 nie.  Dit beteken nie, soos ek reeds gemeld het, dat ek nie verstaan nie en as sulks wil ek my verskoning aanbied as jy steeds voel dat een nodig is.

Ek het intussen die possie verwyder uit Die Werf se argiewe.  Jou oorspronklike storie, soos aangestuur aan my, het sy ereplek ingeneem op sy eie blad op Die Werf, omdat dit so mooi is.

Ek waardeer die skrywe aan my en voorspoed in die toekoms.  Indien u enige ander stories het wat net so mooi en mooier is, stuur dit asseblief aan sodat ons dit ‘n gereelde insetsel op Die Werf kan maak.  Ek doen dit met die grootste plesier.

Voorspoed

Gert James

Aka Pagoda32 – Blogmeester

PS:  Ek’s seker die persoon, wat die storie as sy eie in ‘n tydskrif laat plaas het, dit nie hier gekry het nie.  Daar was ongelooflik baie e-posse wat die wereld vol gestuur was met die storie…

Vir diegene wat die storie wil lees, sien “C Swart” se bladsy, net hier op Die Werf…

16 Responses

  1. Pagoda , briljant , skerp en met waardigheid gedoen.Ek hoop nie die posting het jou so lank gevat dat jy my posting so laat geplaas het nie.Maar Corlietha glo ek sal verstaan, sy is per slot van rekening `n vrou van imbors.

  2. Thanks Brein

    Probeer maar taktvol wees by tye, veral as mens op die oog af met jou broek op jou enkels betrap word.

    Nee, jong, so lank gevat met die possies vandag oor ek so moer besig was die laaste week met werk.

    BTW…ek’t toe die gedupliseerde possie gedelete!

  3. Net ingeval iemand dit gemis het die LEEUS 30 – 27 die vulletjies…

    Daarsy nou kan hierdie naweek nie beter nie.

  4. Vulletjies? LMGA!

  5. Regstelling asb…dis vulletjies nie Vulletjies nie 😆

  6. Meen jy die bulls?

  7. Netso…

  8. Dan ‘n verdere regstelling…tollies

  9. Luister Die BLOU BULLE bly die beste span al het hulle verloor teen die sirkus se Leeus.

    Buitendien was die skeidsregter so ooglopend aan die Leeus se kant dat hulle tot die Bal vir hom “gepass” het tydens die wedstryd. 👿 😉

    Beskou die oorwinning van die Leeus maar in dieselfde lig as ‘n blinde hoender wat per ongeluk ‘n mielie raak pik, soos die brein graag altyd aanhaal. Net ingeval ek ook nou van plagiaat en andere beskuldig kan word. 😯 😳 🙂

  10. Pagoda32

    Hoekom so stil oor die WP en Sharks wedstryd se uitslag. 🙄 😆

  11. Griffel en Pagoda, gaan blaas doppies! Net soos darie skyt-regter!

    Ridder, dankie! Die mense verwar goeie sport met sirkus ja!

  12. Jammer ouens, maar ek is heeltemal ten gunste van kopiereg en mense moet dit respekteer. As iemand onwetend `n kettingreaksie op tou gesit het met `n goeie storie is dit jammer vir diegene wat onskuldig is. Die een wat dit wel in die begin geweet het en net laat waai het, mag sy nageslag altyd verstik aan moedersmelk!

    Gees mense!!

  13. Wys nou net hoe maklik so iets soos plagiaat op die net kan gebeur en ek glo dit gebeur daagliks, ek dink mens kan verbaas staan oor hoeveel ouens en vrouens gereeld ander se skrywe gebruik onder hul eie naam.

    Corlietha Swart, ek is bly ek kon die stuk hier lees en weet nou dit is jou skrywe, miskien sou ek dit nooit anders raak gelees het nie.

  14. Corlietha, ekke het ook nou jou storie gelees en moes baie, baie hard sluk om die knop uit my keel te kry…nie dat dit gehelp het nie. Ek is ook `n mamma en wens so iets geen ouer toe nie. Dit is met baie deernis en liefdevol geskryf. Ek dink ook dit is goed as meer mense dit nou kan lees: En weet wie die skrywer is.

    Pagoda, dis mooi hanteer en fanks dat dit nou reg op die blog is.

  15. Ek onthou hoe ek gevoel het toe ek die stukkie die eerste keer gelees het – net soos Sigeuner. Dis pragtig geskryf.

    Ek moet sê ek het ook al baie kere stukkies in my inbox gekry en aangestuur sonder om te weet wie die oorspronklike skrywer is.

    Pagoda – Baie goeie antwoord. Jy maak ons trots!!

  16. Eish Pagoda! Jy het darem ‘n slag met woorde

Leave a reply to Griffel Cancel reply