Ek maak myself oop – die eerste keer in jare

Ek het swaar grootgeword. Blikkieskos en rys, brood en koffie, ‘n hoenderbraai een keer elke twee maande…dit was soos tweede natuur vir ons. Mense wat met meer grootgeword het sou nie verstaan as ek sê dat dit my nie rerig gepla het nie. Die redes vir die feit dat ons swaar gekry het, by tye, was nooit uitgespel nie. En dit was ook beter so. As kind verwag jy minder want dis met minder waarmee jy groot word.

Skoolklere was gekoop by die skoolbank. Skoolskoene was altyd twee sizes groter gekoop sodat jy dit amper twee jaar kon dra. Net ‘n leksel lym word benodig om die omkrul sole weer te heg sodra die winterreen besluit het die sool moet skei van die leer. Dit was normaal. Ek het van niks beter geweet nie.

Skoolboellies het gou besef dat ek ‘n maklike target was en ek het telkemale deurgeloop. Ek het dae om gehuil…ook dit was normaal vir my. Nooit het ek rerig besef dat die samelewing die bepaling gemaak het dat net moffies huil nie. En as ‘n duidelike “moffie” het ek onder die einste boellies se teistering geswig en mee gegee.

My verharding het bykans oornag gebeur. Ek het eendag een van die jarelange bliksems trompop geloop, gegryp en sewe soorte stront uit hom gemoer. Aanhoudend. Dit was ‘n besluit wat lank voor daardie oomblik gemaak was. En asof in ‘n trans het ek besluit dat kom wat wil, dood of nie, vandag maak ek my punt.

Niemand het my weer na daardie dag gepla nie. Nie ‘n woord was daaroor gerep nie. Geen onderwyser het selfs dit nodig geag om my oor die kole te haal vir wat gebeur het nie…almal, veral die wat al jare bewus was van die ongeregtigheid wat plaasvind en nooit ‘n vinger gelig het om dit te stop nie, het hulle rug daarop gedraai asof daar ‘n stille konsensus bereik was dat ek in ieder geval maar net ‘n tydbom was wat gewag het om af te gaan.

Daardie dag het ek besef dat ek nie van glas gemaak is nie. En elke doner wat my te ver gedryf het, het met daardie sy van my te doen gekry. Ek was steeds ‘n sensitiewe ou. Die meeste van my natuurlike, ingebore karakter het ongedeerd gebly, maar dis asof ek ‘n nuwe sy van myself ontdek het wat ek soos ‘n wilde dier in ‘n hok weggesluit gehou het vir wanneer ek hom nodig gehad het. En ek kan op my my een hand aftel die hoeveelheid kere wat ek daarna na aan trane was. Begrafnisse van familielede en vriende het gekom en gegaan, my hart het telkemale gebreek met die beeindiging van ‘n verhouding, en so kan ek dit opnoem…maar die trane het nooit gekom nie.

Stel jouself ‘n jong boompie voor wat daagliks met ‘n sweep geklap word op dieselfde plek. Slaan hard genoeg en jy mag hom dalk net knak en breek, maar as hy nie breek nie, sal die bas meegee, en met tyd ‘n lidteken vorm. Dit sal verdik en met tyd die sterkste deel van die stam wees…moeiliker om te penetreer met ‘n saag of beitel…dit is ek daai. Steeds ‘n boom van vêr, maar met ‘n duidelike letsel van naby.

So bevind ek myself op 32 jarige ouderdom in ‘n unieke posisie. Die man wat die kettingreaksie aan die gang gesit het as kind lê in ICU in Worcester Medi Kliniek. Al sedert laas Sondag. Op Maandag moes hy haastig in teater toe toe die dokters vermoed het hy het ‘n hartaanval gehad, maar dit word toe later aan ons meegedeel dat dit ‘n gebarste aar in sy buik was. Hy’t liters bloed inwendig verloor en na ure se gespook in die teater is hy terug in ICU…stabiel, maar steeds kritiek. En ek en my familie haas onsself deur soontoe.

Ek kon nie na hom kyk in die bed nie. Daar was te veel pype en drade aan hom gekoppel, waarvan die mees gevreesde ene die asemhalingspyp was…gekoppel aan ‘n masjien. Ek het ‘n minuut in sy cubicle gestaan, toe my vrou en kind buite die deur gekry en deurgery na my ma op Touwsrivier. Selfs toe was daar die belofte dat hy dit steeds kan maak…die morfien sal hom bedwelm hou, die narkose sal hom aan die slaap hou en die asemhaling sal teen die naweek stadig aan homself toevertrou word.

En ons is terug huis toe teen Dinsdag middag. ‘n Vinnige inloer by die hospitaal…en dis juis toe dat ek vir myself se…”Gaan staan net by hom. Moenie praat nie. Staan net daar, kyk vir hom en stuur jou gebed op”.

Ek is met redelike vrede in my hart terug huis toe. Sedert Dinsdag het gereelde updates van die hospitaal en my ma af deurgekom, en die tekens was van so aard dat sy toestand elke dag as “‘n verbetering op gister” gesien kon word.

So sit ek vanaand voor my rekenaar en my vrou kom ruk my uit my wereld uit. “Jou suster het ‘n sms gestuur…jou pa het vandag twee hartaanvalle in sy bed gehad”. Dit het gevoel asof die wereld stadig op my lyf inbeweeg. Asof die spasie om my besig is om my te verswelg. Binne minute was my lyf in skok en kon ek nie eers my foon vashou nie.

Die dokters het gepraat. Verwag die ergste. Die diktator van ouds is verminder tot niks meer as ‘n skaduwee van sy eertydse self. En in daardie besef het ek vrede gevind.

Ek weet dit klink snaaks en as iemand, wat my nie ken nie, sal ek verstaan as mense dink dat ek harteloos voorkom. Maar dis geensins die geval nie. Ek het in daardie oomblik vergeet van al die minder goeie tye en al die goeies het skielik by my opgekom. Die manier hoe hy tot die dood toe sou baklei om my te help om my eerste kar aan te skaf. Hoe hy homself in die skuld gedruk het om my uit die kak te kry toe iemand dieselfde kar afgeskryf het en my gehelp het om ‘n nuwe kar te koop. Die kere wat hy stil stil, sonder dat ek geweet het hy was daar en ek later by ander moes hoor hy was, opgeduik het by my krieketwedstryde – na ek klaar was met skool. Die kere wat ek en hy om ‘n braaivleisvuur na sy aftrede deur ‘n kis bier gedraf het en die grootste klomp stront kon gesels…sonder dat die wolk van die verlede oor ons koppe gehang het. Die oproepe, laataand, wat ek die laaste paar jaar gekry het waar hy, na ‘n paar drankies, vir my kon sê:”Ek is lief vir jou jou blikslaer. En ek’s trots op jou”. Selfs met al sy foute kon ek skielik, uit die bloute, ook al die goed in hom sien…en kon ek ook vir die eerste keer in baie lang tyd openlik aan myself erken dat ek hom vrek lief het.

Nou sit ek en wag vir die mees gevreesde oproep waarvoor mens kan wag, en ek huil vir die eerste keer in baie jare…

29 Responses

  1. Pagoda32

    Sterkte maat, die nou is wat tel, die verlede het maar ‘n manier om vir homself te sorg met tyd. Wat ookal die uitkoms van die huidige omstandighede, koester dit wat jy kan onthou wat mooi en kosbaar was.

    Ons gebede is met jou en jou familie in die tyd.

  2. Ai Pagoda. Jy ruk my hart. Groot drukkie van my.

    As mens iemand na jou aan die dood moet afstaan, onthou jy absoluut net die goeie en die slegte vervaag. Hou dit so. Hy was lief vir jou. Hy was jou pa…

  3. Pagoda

    Ek het my Pa verloor in 1997. En die mooiste woorde wat ek sederdien gelees het om ‘n Pa te verduidelik was:

    “For he who has a farther, love him while you may. Cause this world is such an empty place when daddy’s died and gone away”

    Baie sterkte.

  4. Ai Gert my hart bloei vir jou. Ek’s bly jy kon vrede vind. Ons dink aan jou en jou gesin.

    ((Pagoda)). Sterkte ou vriend.

  5. (((Pagoda)))), Jy en jou gesin is in my gebede en gedagtes. Sterkte. Onthou, jy is nie alleen nie.

  6. ((((((Pagoda)))) – my gedagtes en gebede is met jou vanoggend. Onhou en koester die spesiale en goeie oomblikke en tye wat jy en jou Vader saam gehad het – dit is wat baie belangrik is – daar is ‘n gesegte “you dont know what you’ve got until it’s gone”. Sterkte.

  7. Sommiges van ons verstaan beter as wat jy dink. Baie sterkte vir julle – en dankie dat jy hierdie met ons gedeel het.

  8. ((Pagoda)), baie sterkte vir jou en jou gesin. Daar is nie veel wat mens nou kan sê nie, maar ons almal dink aan jou.

    Ek steel iemand se sê ding vir jou……

    “As jy na jou vrese luister, sal jy sterf sonder om te weet wat ‘n fantastiese persoon jy kon gewees het”

  9. Sterkte Pagoda. Solank daar nog lewe is, is daar hoop…

  10. Vokof het respek vir jou.

    Sterkte ou maat

  11. Sterkte Pagoda, ek dink aan julle. Terwyl ek die stuk gelees het het ek sommer saam met jou gehuil ek weet hoe jy voel en dit is nie lekker nie, dankie dat jy so baie met ons gedeel het. Ek dink jy is ‘n wonderlike mens elke reel spreek daarvan.

  12. Hi Pagoda ek ken jou nie eers nie maar dit voel asof ek trots is op jou.Ek kan met baie dinge vereenselwig wat jy geskryf het. Jy is `n WENNER , flippen MEER as `n WENNER!!

    Sterkte vir julle en ja huil jou hart uit, dit maak dinge net soveel ligter.

    Ek dink aan jou, my vrou het ook die gelees en stuur ook haar beste wense vir julle.

    Hiermee sluit ek af en gaan ek die naweek rustig verkeer en ook mevrou Brein behoorlik beken. Maandag sal ek al die lekker juicy detail met julle deel.
    Hoeveel keer en wat se posisies en alles.Njammies.

  13. Lekker naweek vir julle Brein!😉

  14. My stem gaan ook stil wees die naweek. Ek moet my vriendin gaan help – sy bied ‘n tee aan vir al die hoiti toiti vrouens van Jhb wat dink hulle gatte stink nie! Dis ten bate van welsyn en Nataniël gaan daar wees – dis al hoogtepunt. Ek is glad nie die koek en tee tipe nie! Gee my eerder ‘n yskoue glas witwyn en ‘n ciggie. En my pet hate is snobs!!!!!!! So dalk kry een van hulle ‘n koekie in die gesig. Sal Maandag rapporteer.

    Gaan aan jou dink die naweek ons liewe vriend Pagoda en vir jou bid. Dit wat jy nou deurgaan het ek presies ‘n jaar gelede deurgegaan. Dis baie eina…. Sterkte

  15. Stem vir die yskoue glas wit wyn, geniet dit Annie🙂
    Hopelik sal dit ‘n roomkoekie wees….😉

  16. Sterkte Pagoda, ek dink aan julle!

  17. Hi Pagoda, ek hoop Maandag kom jy met goeie nuus, jammer ou maat dit is baie seer, mag daar beterskap kom, sal aan julle dink hoor.

  18. Pagoda .. alles van die beste, sterkte vir elke minuut .. die uitkoms hiervan is nie in ons hande nie, slegs in ons wat ons hande saamvou en jou pa en jul gesin opdra aan God.

    My respek vir jou as mens groei toenemend. Ek verstaan hoekom jou pa trots is op jou. Jy was altyd die stil ene, neus in die boek terwyl die res van ons alle onmoontlike dinge aangevang het.

    En ek het al die jare geweet iewers diep in jou is iets meer, groters en sterkers wat eendag .. vandag .. jou anders as die res gaan maak. Ek weet dit was harde jare, moeilike jare .. en dat die swaarkry nie ‘n patch was op die hel wat jy elke dag tussen daardie koningsblou gekleede monsters moes deurmaak nie.

    Daar is iets aan die manier waarop jy die punches gevat het .. tjoepstil en geluidloos but always with your head held hugh .. in a humble way. Dit klink teenstrydig ek weet .. maar dit is presies wat jou anders gemaak het. Jy het nie een dag jou maniere by die huis vergeet nie.

    Hmm .. ek wens amper mens kon almal van hulle vandag terugroep en se ‘kyk hoe lyk hy nou’ .. sterkte Gert.

  19. Sjoe Elf, dis pragtige woorde.

  20. Elf…jy sê goeters wat net iemand wat daar was kon weet.

    Wie is jy? Mail my seblief?

  21. Pagoda .. los asb vir my jou details in die Honesty Box op my blog as jy wil.

  22. Sien jou daar…dêm jy’s geheimsinnig!

  23. Dis vir my ‘n riem onder hart mense. Ek weet nie wie almal so hard gebid het nie, maar dit lyk of hy ‘n verbetering toon…weereens. Ek hoop net nie dis van korte duur nie.

    As hy die ene deur die drif trek sal dit die 4de keer wees wat hy die dood naelskraap vryspring…maar die ene gaan hom – en die res van ons familie – toets.

    Thanks pelle!

  24. Pagoda
    Net wil ek se, deur hierdie wat jy met ons deel en selfs vorige skrywes (van jou kind) kom jy allermins soos `n harde mens voor. Jy toor met woorde en dis asof mes daar by jou is, so helder skets jy wat nou daso besig is om te gebeur.

    Ons bid eenstrook met jou saam. Wat ookal gebeur, mag jy die krag kry om `n tikkie meer heel anderkant uit te kom.

    Jy`s `n man wat die lewe in die oe kan kyk. Gees…ons vriend.

  25. Julle het nie ‘n idee hoe baie julle woorde vir my beteken nie.

    My vrou, na gisteraand, het gewonder waarvoor my vingers so rats oor die toetse gly terwyl ek so hartseer was…ek het haar vertel dat dit die enigste manier is waaraan ek kan dink wat ek my emosies kan uitdruk.

    Sy’t vandag kom soek en gelees…en met trane in haar oë vir my gewag toe ek van die werk af kom. Sy sê sy kan verstaan hoekom ek sê dat julle ouens soos familie is…’n ander soort familie, maar steeds tasbaar…
    Sy sê julle is wonderlik.

    Sigeuner…thanks. Brein…moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie. Details seblief!

  26. Sterkte Pagoda. Alles is reeds gesê, wil net hierdie met jou deel: A child has a hole in his soul in the shape of his dad

  27. Pagoda,

    Eerste keer dat ek comment,,,,

    Ek het begrip vir wat jy deurgegaan het en ervaar tot op hede. Ek dink jou laaste comment hierbo is egter meer van waarde vir jouself, die feit dat jy en jou vrou dit kan deel.
    Vir my begin als by innerlikke vrede,,, dit het jy ervaar,,, dit maak mens egter nog nie heel nie, dis net die eerste stap na heel word. Jy klink vir my na n man met beginsels en waardes,,,sterkte aan jou en jou gesin,,, ek dread ook die dag wat ek daai oproep kry uit SA,,,, ek haal my hoed af vir jou, want ek kon nog nie vrede maak nie,,, dis bitter moeilik en soveel faktore speel n rol,,, soos jy sê van kleintyd af.

    Dis n groot las van jou skouers af,,, dankie vir jou skrywe,,, dit het my weer laat dink.

  28. Baie baie sterkte vir julle, goeie vriende op ‘n blog is inderdaad nes familie.

  29. ((Pagoda)) hoe huil ek dan nou saam met jou!! Jy is oppad na genesing en jy is ‘n man op wie jou pa baie trots kan wees. Jou trane is salf vir jou siel.

    Alle sterkte aan jou en jou familie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: