Kattemaai

Kyk, ek is lief vir katte, ekself het een, Mungo Jerry, maar vir die afgelope week is daar ‘n kat wat my elke aand wakker maak met sy gemiaauery by my slaapkamervenster.

Maandag: ek word halfeen wakker en obviously dink ek dit is my kat, en skree soos ‘n maervark by die venster uit vir hom, dadelik stilte….., ‘n uur later begin dit weer en so gaan dit aan.

Dinsdag: Weer word ek wakker gemaak met hierdie boosaardige geluide, weereens skreeu ek by die venster uit en toe ek omdraai val ek bo-oor Mungo wat agter my sit. Oke, dis nie my kat nie, dis ‘n ander kat.

Woensdag: Ek word ‘n paar keer wakker gemaak deur hierdie simpel kat, maar kan nog nie ‘n oog op hom lê om te sien hoe hy lyk nie, skree maar net voertsek by die venster uit, terwyl Mungo op my bed lê en vir my kyk, plaas hy hierdie wetterse kat buite gaan aanvat en afstof.

Gisteraand: Oke ek besluit miskien moet ek my hond op hom sit. Bullet (boxer) word 13, hy is nog heel fiks maar so doof soos ‘n kwartel, dis hoekom hy nie hierdie hele palawa kan hoor nie.

Halfvier vanoggend kan ek dit nie meer uithou nie en stap na Bullet toe waar hy op sy matras binne slaap, ek raak saggies aan sy kop om hom wakker te maak en hy skrik homself in die oortreffende trap.

Ek lig sy oor op en skreeu binne-in sy oor “KAT” maar hy kyk my net so dof aan, ek sluit die deur oop en draf buitentoe met die hoop dat Bullet die skimp sal vang, maar hy slenter net lui agter my aan, toe hardloop ek maar in volle vaart om die draai en jaag die kat maar myself in die jaart rond, met Bullet wat bokkerol in die donkerte kan sien. Toe raak hy bietjie opgewonde maar teen daardie tyd toe is kat se kind witweg.

Vanaand gaan ek die pelletgun uithaal……..

12 Responses

  1. Hie-hie, sou nogal gelike het om daai gehollery om die huis te aanskou… jy het nie dalk ‘n buurman iewers hoor lag nie? 😆

    Oi, hier by ons is ook katte wat soms konsert kom hou. Mens skrik jou skoon in ‘n ander geloof in as hulle dit doen in die middel van die nag, klink soms soos ‘n baba wat huil. Ek kon hulle al so ‘n paar keer raakspuit met ‘n watergun, dan bly hulle weg vir ‘n wyle. Miskien moet jy vir kieterkat inwag vanaand en hom die surprise van sy lewe gee… 😉

  2. Ek is baie lief vir diere maar katte is nie my gunsteling nie. Volg Dellie se raad. Dit klink na ‘n wenner.

  3. Die kinders het my vanoggend gevra hoekom hyg ek so na my asem buite hulle kamervensters soos ‘n pervert 🙂 Eish..

    Ja-nee miskien moet ek ‘n watergun kry, klink na ‘n briljante plan, netnou skiet ek weer die bakkievensters flenters met die pelletgun.

  4. Jislaaik…dai sal nou die cherry op die koek wees. As jy og nou jou eie bakkie moet skade aan doen! LMGA!

  5. Dit sal vreksnaaks wees Pagoda, maar eers oor 10 jaar…… 😆

  6. Ja Koeksister so ‘n kat kan lastig wees. Ons het een gehad wat tot binne die kamer gekom het en Fishpaste se kos geëet het terwyl ons slaap. Een nag word ek egter wakker en sien die meneer maar voordat ek kon opspring sien ek net so ‘n rooi gevaarte oor my spring teen die spoed van lig. Dis toe my viskat. En het hy daai kat gejaag! Tot in die straat. Dit was die laaste sien van die nagbesoeker

  7. Ai Annie, ek wens Mungo wil bietjie inisiatief neem, maar hy steur om aan niks nie. Ek weet nie hoe ek hom so verkeerd grootgemaak het nie, >sug> 😉

  8. Ek sou nou nie juis myself as die grootste katliefhebber beskryf nie…. ek sal die kat vir jou kom uitsort, maak net seker Mungo is nie naby nie!

  9. Eks mal oor mooi katte, maar het nog nooit een gehad nie.My hond is ook nou veertien jaar en ook stok, stok doof. Die beste manier om nou met hulle te kommunikeer is om hulle baie te vryf en aan te raak.Ja dowe honde skrik hulle in `n ander bloed groep as jy skielik aan hulle vat.

  10. Demoerin, jy’s meer as welkom, Mungo sal hom heel moontlik nie eens aan jou steur nie, jy verstaan nie, die budgie loop tot by hom en trek aan sy snorbaarde dan kyk hy net ander pad.

    Ja Brein, ek en Bullet is besig om mekaar handsignals te leer. 😉
    Ek probeer nog uitfigure wat om te beduie as dit ‘n kat is. hehe

  11. Brein, ag kry vir jou ‘n ou furball! Hulle is fantastiese, skoon grasieuse diere, en hulle praat as iets nie na hulle sin gaan nie!

    My seuntjie hond (Hooch) is ook al bietjie doof en skrik net so as jy aan hom vat. Een aand kuier ‘n ou wat saam my werk hier en hy loop toe toilet toe en trap bo-oor Hooch. Lg het so geskrik dat hy die ou aan die enkel ‘n lekker pinch gegee het. Die het so geskrik, hy het tot vir ‘n klem-in-die-kaak inspuiting gegaan, maar nie voordat Ingilsman hom vertel het hy moet bietjie sy voorouers gaan naspoor want Hooch het nog niemand gebyt behalwe k………… nie.

  12. Ja Koeksister, so ‘n gekattermaai in die nag is vreeslik irriterend. Daai watergun klink na ‘n blink plan en ‘n veilige een ook…hehehe.

Leave a reply to Koekie Cancel reply