Bloggers Rym

‘n Nice post van Phibbie / Tisha het my oorreed om iets wat ek nog graag altyd wou doen te inkorporeer in die blog.  As enigiemand ‘n mooi gedig het wat self geskryf is, stuur aan na diewerf@live.co.za

Ons plaas enigiets; van kortverhale, mooi stories, gedigte, lirieke, ENIGIETS!

As dit wat jy wil plaas nie jou eie is nie, maak groot-seblief seker die oorspronklike penner se details word daarby ingesluit.

___________________________________

Maddie – kort kort kort verhaal deur Gert

Maddie sit vir die hoeveelste keer in die donker met ‘n handdoek teen die kop. Sy wonder onwillekeurig hoe hy dit reg kry om elke keer presies dieselfde plek raak te slaan.

“Man, hy’s geoefen”, sê die stem binne haar.

“Stront man. Dis oor hy sulke groot hande het en hy ken nie van mis slaan nie”, stry sy met haarself.

‘n Fyn glimlag bars deur die strak gesig. Maar dis nie oor sy die insident humoristies vind nie, eerder oor sy soos ‘n mal mens met haarself sit en praat.

Sy besluit om die lamp aan te skakel sodat sy nie in haar bedwelmde toestand haarself verder aanrand met ‘n deurkosyn nie. Hy gaan nou kom vra waar sy draai en sy wil ten alle koste verdere drama verhoed.

Die lampie gooi sy lig skuins teen die muur en sy trek die handdoek, gevul met wat omtrent ‘n uur terug ys was, stadig van haar dooie gesig weg. Die skarlakenrooi lê nou bleek oor die materiaal. Ys smelt en daarmee saam smelt die donkerte van die daad. Die trane wel weereens op in haar oë en sy kry dit net net reg om die hartseer terug te sluk.

Op 14 Junie 1998 is Maddie getroud met Andries. Die oudste seun van die Trichardts op Malmesbury was ‘n aantreklike kerel. Sterk gebou met breë skouers en selfs ‘n breër glimlag. Toe sy daardie oggend vir hom sien staan het in die ko-operasie in sy chino en kortmouhemp het sy geweet daar kom perde. Die vlinders wou nie laat los nie en sy en Andries het vir ongeveer twee jaar lank mekaar sat gekuier.

Ongelukkig vir haar het die kleure van haar ridder op die wit perd verander. “Vandag is die doner niks meer as ‘n doos op ‘n donkie nie”, dink sy.

Maddie soek met dom vingers na die ganglig se skakelaar. Om die skakelaar vir die badkamer te kry is ‘n byna onbegonne taak sonder dat die ganglig aangeskakel is; dis allermins net hulle derde week in die nuwe huis. Die koue teels blink helder onder haar voete en dit voel klewerig terwyl sy voetjie vir voetjie voortbeur na die badkamer. Die bloed op die teels het al begin stol. “Ag, warm water sal dit afkry. En ek sal dit moet doen voor ek gaan slaap of Mavis vra weer dom vrae moreoggend.”

Die figuur in die spieël is bykans onherkenbaar. Sy weet sy sien haarself, maar skaars tien minute van tevore het sy aan haarself as ‘n vrou van tien jaar jonger gedink. En die mens hier voor haar lyk allermins wyser…net…ouer. Die wereld voel asof sy in ‘n waas beweeg en sy lig haar hand om die bloederige lokke eenkant te trek.

“Ai. Dit lyk erg”. Sy draai die warmwaterkraan oop en laat lê die waslap daar vir ‘n ruk totdat die damp die hele spieël gevul het. Sy draai die kraan toe en verwelkom die vuurwarm lap in haar hande. Sy besef sy leef nog.

Stadig vou sy hom oop en waai hom so bietjie rond om van die ergste hitte ontslae te raak. “Byt op jou tanne meisiekind!”

Maddie voel of sy kan skree, maar sy weet sy kan nie vanaand die duur beddegoed met bloed bevlek nie. Die gemors moet af.

Sowat ‘n halfuur later kom sy pynlik stadig uit die badkamer beweeg. Haar gesig is nou skoon, maar dit is nou verskriklik seer. Haar regterwang en slaap voel geswel en sy wonder hoe sy dit gaan regkry om vanaand op haar linkerkant aan die slaap te raak. Nie net is haar ribbes aan die linkerkant baie seer nie, maar dis ook die kant wat gaan maak dat sy in Sy gesig moet vaskyk.

Dis koud. Die adrenalien is uitgewerk en haar hele lyk voel styf gespan soos ‘n snaar. Sy begin verskriklik ruk van skok en sy besef sy kort iets soet en warm in haar hande. Amper paniekbevange sit sy met mening af na die kombuis sodat sy die ketel kan aanskakel. Verby die kamer…en sy hoor sy gesnork.

“Die vermetelheid. Bliksem my des moers en gaan kruip in en slaap asof niks makeer nie”

“Maar dis mos sy ou laai daai”, stry sy weer met haarself.

“Stop dit! Ruk jou reg!”

Nog ‘n maal verskyn ‘n amper glimlag op haar gesig. “Dis waaragtig nie die eerste keer nie, Maddie. Jy moet mos van beter weet teen die tyd!”

Dis elfuur en die soveelste warm koppie soet koffie is in haar hande. Sy wens daar was iets wat haar nou nog kan besig hou want sy voel nie moeg nie. Net afgerem. Maar nie moeg nie. Die slaap kan for better or worse maar weg bly vanaand. Dis beter so. “Ek sal more slaap”

Terug kombuis toe. Nog ‘n koppie koffie. Solank daar ‘n warm koppie in die hand is het sy ‘n rede om nie kamer toe te gaan nie. “Ek moet nog gaan stort. My lyf voel taai”…

Maddie skakel die kombuislig vir die soveelste keer aan en sien weereens die rede ir haar pak slae vanaand. Toebroodjies. ‘n Donerse hoender mayo toebroodjie het haar vanaand ‘n sny so lank soos ‘n lipstiffiebuisie teen die kop gegee. “Maar Andries werk hard deur die dag, Maddie. Hoe kan jy nou vir hom toebroodjies wil gee vir aandete?”

Sy maak die laai van die kombuiskassie oop vir die soveelste teelepel. “Ginsu…dis die naam! My ma vra gereeld wat die naam van daai messe was wat op tv………”…en sy raak stil. ‘n Ewigheid gaan verby. Sy hoor ver weg honde blaf. ‘n Verlate motor wat soek na sy eie huis…

“Wat is daardie nommer nou weer?”, vra sy haarself terwyl sy na die koordlose telefoon soek.

“10111, what is your emergency?”

‘Kom haal my seblief. Ek het nou net my man met ‘n mes vermoor”

——————————-

Pagoda se dig –

Seun

Sy hande gryp verwoed

Nie oor hy wil nie maar oor hy moet

Die arms is te fyn en kort

Maar definitief glad nie oor daar iets skort

Sy oë sprankel blou in die dowwe lig

En diep uit my binneste gee ek ‘n sug

Nie een uit kwaad of misverstand

Eerder een uit liefde, daarom die dig

Die klein sagte wurm is heeltemal nat

Gereeld in die mond, dis net spoeg wat spat

Die giggel en lag kom diep uit die maag

En die kyk in die oë laat my met een vraag?

Is jy soos ek of jou ma?

As kind het ek myself redelik gedra

Jou ma was volgens ouma ‘n grote pyn

Selfs is jy sal ek dit maklik verdra

Met ‘n wil van jou eie trek jy aan my duim

Regop staan so vroeg, dit wil jy nie versuim

Wankelende voete en knikkende kop

Lag uit die maag as die bewerasies stop!

Jy is nie die punt van hart

Jy is my hart

Jy is my siel

Jy is Jacques

——————————-

Talita Myburgh het hierdie persoonlike ene deurgestuur:

Wroeging

Ek onthou ‘n tyd in my lewe
toe ek nog na emosie gestrewe het,
so tussen die boom en die bas
was ek toegedraai met niks te tas.
Geen regte seerkry het my geknie
en van ware geluk weet ek ook nie.
‘n Lewe van Bourgoise
in die middel, soek ons emosie.

Of so het ek gedink;
op my mondigwording is my bitter glas geskink
en depressie, die tasbaarheid van die dood
het my omvou en laat sink soos lood.
Geveg het ek, tot bo,
asem gedrink in ekstase wat min sal glo.
Maar die oorlog is allermins verby,
die lood se ketting bly nog
doodse gal swart dreig vir my.

___________________________________

Pagoda32 se rym:

Stadskind

In wit gebleikte hoed en

Roet gekleurde hand

Weet die man hy moet

Of tyd maak hom van kant

Mense stap verby in tyd

Met die tik tik tik van stadsgewoel

Almal sien neer sonder spyt

Op die man…meeste sonder gevoel

Dis steeds nag as hy sy oë oopmaak

Klere regtrek, betrek met gaat

Gesig moet was in fontein, bitter koud

Lyne oor sy gesig, hy voel oud…

Gevloek geskel en harde hand

Is weereens vandag sy voorland

En dit alles gebeur met een rede voor oog

Hy’s honger en siek en voel skurf soos sand

Dis maklik vir ons om die kop te draai

Want met die man “is ons plek nie fraai”

Hy’s lui en dronk, dis wat ons dink

En niemand dink aan die plek waar hy homself bevind

Hy’s alleen.

Hy’s honger.

Van die mensdom vervreem.

Hy’s van die lewe ontneem

Familie wil hom nooit nie ken

Hulle weet hy’t die lewe nie gewen

Uitgemaakte saak sy lot

Op een of ander sypad sal hy vandag moet “vrot”

Eendag loop ons die parkie binne

En sal ons daar iets te vinde vind

Opgekrul teen ‘n boom so hoog

Styf getrek soos pyl en boog

Asem is weg

Hy’t verloor die geveg

Jy soek eenvoudige vertroosting in die feit

Hy’s weg, maar dalk in ‘n beter plek

______________________________

Brein se Rym

Die afsterwe van SSSB.

Jammer om te hoor,
so jammer om te hoor,
Steve se spoegblok is gekwes,
Na sy siekbed in Pretoria Wes.

Na konsiderering gee hy nou bes,
En op Die Werf trek ons nou wes,
Teen die lamppale lees ons die verhale,
Van die kunstenaar se swanesang verbale.

Op Steve se spoeg blok was ons soos familie,
Ander jaloerse vuurspuwende bloggers,
Was weer `n nare klomp boggers,
Maar op Die Werf is ons weer `n hegte familie.

Soos `n beer het Steve se spoegblok hiberneer,
Maar hier op die werf kyk niemand op ons neer,
Pagoda federasie is goeie inspirasie,
Vir Die Werf se nuwe bevryde nasie.

Skrop en kekkel saam met Phibbie as jy wil,
Maar solank jy skrop , want jy wil,
Hier is ons bloggers homogeen,
En niemand suig aan die agterspeen.

Jammer om te hoor ,So jammer om te hoor,
Steve se spoegblok het in die kuberruim versmoor,
Steve se spoegblok se DOOD,
Is Die Werf se BROOD.

Hier’s ons eerste een van Christa (Koekie)…en sy sê die volgende:

“Hiermee my bydrae tot die gedigte blad.  Ek het hierdie gediggie geskryf vir my seuntjie (nou 11). Ek is nou nie eintlik ‘n digter nie maar het op daai spesifieke dag na hom gekyk en moes net ietsie vir hom skryf. Hy geniet dit vreeslik as hy dit lees en ek kan sien hy is erg trots dat sy ma spesiaal net vir hom ‘n gedig geskryf het. Dis nou nie een van daai “diep” gedigte nie maar dit is spesiaal vir my en vir hom.”

My blou-oog liefie

Op 19 Mei het jy jou verskyning gemaak.

My swartkop seuntjie was heeltemal volmaak.

Tien vingers en tone het Pappa getel,

terwyl hy opgewonde die familie bel.

Jy het soos ‘n engeltjie gelyk,

en ons het dadelik besluit na wie jy gaan lyk.

“hy is sy pa uitgeknip” het Ouma gesê,

terwyl jy, salig onbewus, in jou bedtjie lê.

Jou TROTSE pa se bors het geswel,

terwyl hy vir almal van sy bulletjie vertel.

“Met daai fris kuite”, is almal meegedeel,

gaan hy verseker eendag rugby speel!

‘n Naam moes jy kry, en almal het gedink….

..Tiaan, Ryno, Werner, maar nie een het reg geklink.

“Vernoem hom na sy pa”, het almal beaam,

en uiteindelik is Rynhardt, Tjaart gekies as ‘n gepaste naam.

Tyd het vinnig verby gegaan

maar ek wens tyd kon stil staan.

4 maande oud is jy vandag,

En my hart klop warm wanneer jy uitbundig lag.

Vol bewondering sit ek en kyk,

hoe jou soekende handjies na alles wil gryp.

Skielik glimlag jy van oor tot oor,

jy het uiteindelik jou dummy opgespoor.

Ek kan myself nie indink sonder jou in my lewe.

Jy verskaf ons soveel plesier, en ek weet daar’s nog vele.

Mooier as jou engel-gesiggie kry mens nie,

Pa se bulletjie en Mamma se liefie.

Liefde

Mamma

_______________________________

4 Responses

  1. Jissie maar jys darem oulik. Ek sou maklik met jou kon trou as jy nettie so oud en grys was nie. Hiehiehieheiheiheie

  2. Jy kan daai een skuif hierheen Pagoda. Mense kan mos hierheen kom om dit te lees of hoe

  3. Nee wat…dis ‘n nice post…hy kan bly net waar hy is!

  4. Nope is reg met my baas.

Comments are closed.

%d bloggers like this: