Sigeuner sê – Aflewering 1 (van 3)

Ek sal oor die volgende drie dae Sigeuner se insetsels hier plaas! Dit val so lekker oppie oge!

 

Was hierdie afgelope 5 weke hectic!  Skoonma-hulle wat Kaap toe gat.  My kinders wat altwee bosluisbyt-koors kry.  Gelukkig nie tesaam nie…of ongelukkig?  Jis!  Dit was koors wat erger as kookpunt was, nie eet nie,  `n gekots wat skrik vir niks en heelnag wakker bly saam met `n kind.  Te bang daar gebeur iets as jy `n oog toemaak.  Eers was dit Kleintjie, met die swart bytplek reg agter haar linker-oor.  Dokter toe na die koors begin toeslaan het.  3 Dae daarna byt NOG `n bliksim haar net bokant die ou bytplek.  Gelukkig was sy nog op anti-biotika. (al haat ek die goed!)

Ek het gevrees toe First-born begin kla van kopseer en verkoue.  Wragtag!  Daar sit een monster van `n bontpoot-bosluis reg agter haar linker-oor!  Kan jy jou voorstel?  Die een doen wat die ander doen?  Al is dit nou net om dieselfde bytplek te kry?  Tweeling-goed?

 Hierdie First-born kind van my is mos allergies vir anti-biotika!  Dokter toe en na ellelange vrae en ondersoeke en navrae, kry hulle toe hierdie antwoord:  Daar is NET 2 biotika`s vir bosluis-koors in S.A.  Die een is toevallig ook vir mense wat anti-biotika-intollerant is.  Whalla!  Toe kry ons darem my kind gesond, anders moes sy onder `n pediater se sorg in `n hospitaal gaan lê het, met drips en alles aan.  Net vir INCASE… gee dr. Watsenaam liewers maar donnerse duur Histamine saam, AS die kind dalk `n reaksie op die medisyne sou hê. 

 Ons bly in 2 huise oppi plaas en terwyl skoonma-hulle weg is, pas ons hulle huis op.  Toe kom Skoonma-hulle mos terug.  My kinders is uiteindelik gesond!  Ek was omtrent vir 2 weke net in die huis vasgekuister a.g.v. die kinnirs dokter en gesond bid.  Ek maak die lekkerste potjie-kos al van vroegdag af, net uit dankbaarheid om weer son te sien, julle weet…om buite te wees!  Ek voel soos `n kind en wil net rondomtalie en dans bo-oor die gras!  Alles lyk so groen en mooi!!

 Ek gaan kyk eers of my vetplante dit gemaak het sonder water vir 2 weke lank.  Die versameling staan in `n gangetjie van 1.5m x 10m.  Ek skuif bakke reg en tel van die klein bakkies onder op die stene op en sit dit bo-op die houtrak.  Skuif van die groter potte ondertoe.  Ek trek so groot pot vol kompos nader en vul van die bakke op, waar van die plant- wortels  uitsteek. 

 Ek fluit en sing en is so happy soos krismis 30 jaar terug!  En DAAR sien ek hierdie mooiste-ooiste blom in jarre!  Ek vat daai pot net daar en hol soos `n olimpiese atleet huis toe om vir almal die wonderwerk te gaan wys.  Ek los die blom-pot daar, sodat almal dit die hele dag lank kan bewonder.  Terug by die gangetjie en my plante wat dringend aandag verg… My Engel skud net haar kop in ongeloof/geloof?  Sy HET my daar probeer weglok met die plant wat ek moes gaan offshow en wragtag!  Ek gaan maar net weer terug! 

 Ek werk al te lekker so tussen my pragtige kaktusse en die hele wêreld voel vir my soos die paradys!  Maar ons is natuurlik al 2008 N.C. 

‘n Blêrrie rooimier byt my aan my toon net toe ek altwee hande vol het met bakke en ek smeer sommer my voet so skuins oor die bakstene om van dit onslae te raak, maar die ding SIT!  Ek dog toe NEE jimmil, dis dalk `n spinnekop wat so seer byt dat dit soos `n kooltjie vuur brand!  Ek kyk toe af!!!!!! En daar staan hierdie euwel van `n Rinkhals-satan vir my en kyk!  So 15cm van my kuit af!  Sy kop gelig  30cm van die grond af en net reg om te pik!  Toe ek wegspring, gil en amper in my broek kak, pik daai ding net mis!  My water breek… 

Ek is `n tree van hom af en net vir veiligheidsonthalwe hardloop ek tot op die punt van die gangetjie.  Die paradys-euwel gaan lê toe plat op die grond en seil terug waar hy vandaan kom (Nie Eden toe nie!)  Dit terwyl ek nog steeds een strook aanmekaar gil en gil en gil en gil, dat die ondergrondse water spuitfonteine maak! 

Niemand hoor my nie, niemand help my nie!  Ek probeer harder gil, maar dit klink asof ek probeer jodel, terwyl iemand my verwurg!  SLANG!!  SLANG!! Slaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaang!  Ok?? Enige iemand??  Slang??  Slangetjie???  Ok!  Julle almal se moer ok! Die slang se moer ok, die paradys s`n, sondeval s`n en my stem wat klink of dit breek s`n ok!  Alles se moer…ekke is kwaad en wil net iets moerland toe skiet!

Ek hardloop huis toe om die haelgeweer te gaan haal.  Ek is so kwaad dat daai oerknal-duiwel my so skrik gemaak het, dat ek hom amper met my eie kaal handjies wil vermoor, die bybil sê ytdriklik, ek moet hom die kop vermorsel …maar ek waag liewers nie kanse nie…netnou het hy ok bybil gelees… 

Ek gil en skreeu nog aanmekaar, toe ek die huis inhardloop.  Skoonma is op die foon, buite werking wat hulp betref…(sy, nie die foon nie!) ek harloop daai trappe 3/3 op!  My asem juig, ek jodel, my hande bewe, maar ek kry daai shotgun uit die kluis.  Skoonpa word wakker van die kluis se deur wat so raas, Boetie-Pieter, wat op sy bed gelê het en gedink het ek speel net met die kinders, kom toe agter dis geen speletjie nie en spring op! 

Ek hyg in kort stacatto sinne waddie storie is…almal hardloop voor my uit na die slang-kaskenades toe.  Ek wil net almal uit die pad uit hê en as ek net `n blêrrie koël gehaat het, was almal voor my in groot gevaar!  Ek hardloop toe maar agterna, net om daar te kom en die addergebroedsel is WEG!  Ons soek `n halfuur aanmekaar, maar Rinkhals bly net weg! 

Intussen het `n dosyn varke uit die hokke gekom.  Liefie en die honde probeer die goed terug kry.  Ons ander stap terug huis toe.  Ek met die haelgeweer, sonder patrone.  Ek sit die haelgeweer op die kombuiskas neer en wil uitgaan om met die varke te gaan help.  Toe ek by die deur kom, dink ek, wat de hel!  Ek gaan mos te bang wees om weer in daai gangetjie te werk! 

Ek vat die haelgeweer, gaan haal eers patrone by ons huis, gryp so in die loop `n lekker lang 38 x 38 plank.  By die gangetjie sit ek eers die haelgeweer en patrone neer en vat die hout.  Ek begin by die kruie-tuin en rand al wat `n plant is aan… ek moer so hard as wat ek kan tussen die plante in!  Blare, takke en grond spat in alle rigtings!    Jy ruik net Katjiepierring,Tiemie en Roosmaryn…NIKS!  Ek begin op die punt van die gangetjie.  Eers slat ek teen die ysterpote van die stands dat die hele plek dreun en bewe (my broek ook!)!  NIKS!  Daar steek so lang stuk plastiekpyp deur die kombuis se muur tot in die wasbak-kas in.  Ek ruk die kombuisdeur oop, ruk die kombuiskas oop! NIKS!  Pieter en die kinders staan by die lekkerruik-feetjie boom en hou my dop.  Wil liewer nie weet wat hulle van my mal aanval op onsigbare slang dink nie?  Lag seker in feetjie-taal. 

Ek begin toe pot vir pot met die hout omslat!  Ek gee nie om wat alles in die slag bly.  Die 7 de pot en DAAR!  styf teen die muur lê Eva se verleier!  Doodstil! Sonnir appel…ek wil eers vra:”Hey, scaly, jy sceme dissie Eden hierrie?”, maar ek gil weer dat die kranse in die Kaap, waar my ouma kaalvoet oorgeloop het antwoord gee:  Ek het hom!  Ek het hom!  Eureka, die slang! 

Pieter hardloop nader!  Ek wys hom die  satan se maaksel!  Pieter hou hom dop, terwyl ek vir Liefie by die varkhok gaan haal (met `n moerse roggelende ge-jodel!)  Liefie laai die haelgeweer, staan saggies nader en KABOEM!!  Vier van my potplant-bakkies moerland toe!  Die slang dink nog hy sis, toe is hy ook middeldeur!  Maar o jimmil!  Die bek maak nog so oop en toe asof die simpel ding dink hy gaan `n appel aan my ook afsmeer!  Liefie laai `n bokhael-koeël en skiet daai gapende kop van die slang reg van sy halwe lyfie af!  Die slang sal nooit weer iemand aan die jodel kry nie!  Gelowige bliksim!  Wil my aan my hakskeen byt? 

Die ding was net so oor 1.2m lank en 2 besemstokke dik! 

As jy mooi luister sal jy nou-nog die bloekombome onder op die plaas hoor dreun.  Ek het regtig so hard gegil en geskreeu soos nog nooit tevore in my lewe nie.  Dit het vir dae aaneen gevoel of ek kwaadaardige laryngitis en permanente uitgehaalde-mangelskade onder lede het.  Die arme slang HET seker groter as ek geskrik toe ek so gil, miskien moes ek hom maar gehou het om die rotte te eet wat so aan my vetplante kou in die Winter?