Kaap van Storms!! Spectacular!

Brander oor Kalkbaai se hawemuur

Kalkbaai se restaurant

Kreefplaas – Kalkbaai – Verspoel!

Fishpaste

Helloooooow !

 

   

My ma het gevra ek moet ietsie skryf oor my lewe, aangesien sy baie besig is.  Ek kan nie verstaan waarmee sy so besig is nie, want al wat sy eintlik moet doen is om my kosbakke vol te hou, my maag te masseer, my te borsel en te streel, en my te vermaak met speelgoed … wanneer ek in die bui is natuurlik.

 

So terloops, vir in geval julle nie weet nie …. Ek is Fishpaste, die mooiste en slimste van alle katte.  Ons bly in ‘n lekker huis langs ‘n spruit volop muise, voëls en akkedisse.  My slawe is my ma, my pa (hy kom en gaan met ‘n swart ding wat hy agter hom aansleep), die jonger slaaf wat nie die slimste slaaf in die wêreld is nie, en die donker slaaf wat my met ‘n lawaaierige, suigende slang rondjaag as ek wil slaap.

 

Dan is daar ook die twee irriterende honde … Hooch en Rooibos.  Hooch hou nie baie van my nie want hy het eerste by die slawe kom bly, maar ek word op die kombuiskas getel en ham gevoer.  Hy wag net tot die slawe buite sig is, dan jaag hy my om die huis.  Ek dink sy grootste wens is dat ek die pad gaan vat.  Rooibos is die meisiehond en nie baie skerp nie.  Sy hol al agter Hooch aan, met geen idee hoekom nie.  Al wat sy weet is als wat Hooch doen, is lekker.  Dan is daar nog die simpel grys voël in die hok … Dingbat.  Ek dink hy is ‘n geheime agent vir die slawe want hy praat met hulle in hulle taal.  Ek is seker hy vertel vir hulle wat ek doen as hulle nie by die huis is nie.  Hy lyk nogal lekker …

 

Die jong slaaf is maar alte gewillig om deure vir my oop te maak en met my te speel.  As ek my stem dikmaak omdat ek te lui is om by die venster in te spring, kan jy maar weer die korthaarslaaf gaan aangehardloop kom … lekker stupid, maar ten minste is hy ‘n getroue slaaf.  Hy en sy vriende raas net ‘n bietjie as ek wil slaap.

 

My ma is die coolste slaaf ooit.  Sy vertel my altyd dat ek die mooiste seuntjie in die wêreld is en druk en soen my (nie so mal oor laasgenoemde nie).  Sy gee my die lekkerste eetgoedjies, selfs 4 uur in die oggend wanneer ek doodmoeg inkom na ‘n nag se jag.  Soms gil sy bietjie as ek vol knapse kêrels is, en vat my dan na daai aaklige plek waar hulle my in water druk, my mooi pels afskeer, ‘n strik op my kop vasmaak en my vol poeier gooi!  Sy kan nie vir my kwaad word nie, selfs nie eers as ek haar nuwe Nine West handsak gebruik om my naels bietjie skerp te maak nie.  Die lewe is ‘n lied, geskryf net vir my!  Miskien sal sy ‘n kiekie van my saamstuur sodat julle kan sien hoe cute ek is.

 

Chow !