Pagoda gaan vir Swaarvoertuiglisensie.

 

Pagoda, gaan vir die hernuwing van sy Swaarvoertuig Bestuurderslisensie.

 

TOETSBEAMPTE: Goed Pagoda, kom ons toets jou algemene kennis –

Jy ry teen ‘n afdraend af en voor jou is ‘n ander vragmotor, Jy wil verby gaan –

Wat doen jy ?
 
Pagoda: Is reg, Mener. Ek kyk hom die left mirror, die pad is skoon, dan kyk hom die right mirror, die pad is skoon – Dan ek slaan die indicator, trap die petrol, kom buitekant, ek gaan verby.
 
TOETSBEAMPTE: Toe jy nou so besig is om verby te gaan, kom daar ‘n ander vragmotor van voor af,

Wat doen jy dan?
 
Pagoda : Is nie mulakeit nie, Mener, weer ek check die left mirror, es skoon,  kyk die right mirror, es skoon, dan sit hom die indicator to the left, vang bietie briek, dan steek ek die neus agter die ander lorry in.
 
TOETSBEAMPTE:  Raait, maar toe jy nou in  die spieel kyk, het ‘n ander trok van agter die gaping toegemaak,

Wat maak jy nou ?
 
Pagoda: Aitsa bra, Dan maak ek mar my assistant Patches wakker.
 
TOETSBEAMPTE : Nou hoekom wil jy vir Patches wakker maak.
 
Pagoda: Ek,  ek dink nie Patches sy het al so moerse ongeluk gasien nie. 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Dag in die lewe van Pagoda

Rihanna laat waai met haar treffer en soos blits skiet ‘n vuurwarm hand onder die komberse uit, gryp die foon en smoor hom met geoefende akuraatheid onder die kopkussing.  Die Nokia is gestrooi met knoppe…een van daai wat lyk asof dit tuis hoort in die kajuit van Challenger 14, maar die maande het die vingers goed geleer en sonder om eers ‘n ooglid te roer word die regte knop gedruk om haar skril stem onder beheer te kry.  Snooz…die term vir die nuwe millennium. 

 

Ek stel my wekker / selfoon altyd vir 25 minute vroeer as wat nodig is vir my om op te staan want tyd het my geleer dat die snooz siklus 25 minute neem om uitgewerk te raak.  Gaan 4 keer af in daai tyd, en elke keer weier Rihanna om die musiek te laat stop.

 

Teen 6:30 word die swaar eendveer duvet soos ‘n vrot vel regs geslinger.  Ek’s ook maar vrek dankbaar dat dit swaar is want daardie move moes seersekerlik my vrou elke oggend yskoud gelaat het as dit enigsins ‘n paar gram ligter was.  Vir ‘n vlietende oomblik word die dae getel waarop ek so opgestaan het en dan sak my moed in my skoene…dis Maandag.  Die laaste keer wat ek so gesit het was Vrydag…so met onderbroek en deur-die-stront-gevreetjie.

 

Pakkie entjies en die foon in die hand suiker ek na die badkamer en hou myself besig met snoeker of Simcity terwyl die natuur oorvat.  En met afwagting word die stortgordyn dopgehou want die warm lafenis wat daarin wag kan nie gou genoeg kom nie.

 

Een twee drie en ek soek met ‘n stomende lyf vir die knoppie langes my bed sodat ek asseblief tog nie weer my hemp agterstevoorom aantrek nie.   Die laaste keer het die donker my verraai en moes ek teen 13:00 die middag toe ek my warm baadjie uittrek agterkom dat die mense nie heeldag vir my geglimlag het oor ek so dem aantreklik is nie, maar eerder oor ek in my domgeid my kraag agterstevoor gehad het.  Met my sak teen my bors…aan die binnekant…

 

Die dowwe lig slaan teen die muur op en die sokkies, onderklere, en dies meer vind hulle pad op die aanbeveelde manier aan my lyf.  Soos ‘n trapsuutjies om die bed en ‘n piksoen teen die warm voorkop van my vrou…dan om na laitie se kamer waar hy droom van oom hippo en tannie sywurm; sy nuwe sagte maatjies langs hom op die kussing.  Hy lê te diep vir my om by te kom so ek sit maar ‘n hand op sy kop en ek voel die lewe deur hom bruis voor ek met ‘n swaar gemoed my pad vat…trap af. 

Gly myself des moers in die donker by die trappe af ja…die skoene voel soos damtrappers onder my sole en die kontrakteur het sekerlik in die vroë 80’s nagelaat om die trappe wyd genoeg te maak, so elke nou en dan trap jy vir een trap maar slet neer vir twee, selfs drie.

 

Raait…sleutels.  Remote vir die hek en bos vir die kar.  OK.  Nou die deur, maar die wetterse honde vergeet gereeld watter kant bo is en tegelykertyd ook sommer watter kant die hek en deur sit.  Opsigself ‘n probleem want vriend kom van die deur af en vyand van die hek.  So na trompetgeskal en ‘n hewige keelopsit is ek by die hek uit.

 

Teen 7 op die pad…ek’s sekerlik laat vandag.  Slaan die N1 teen 7:10…verkeer is lig.  “Dis skoolvakansie” onthou ek en my hart jubel.  7:20 – net voor N1 stad staan alles doodstil en ek bere my partytjiehoedjie want ek gaan nerens vir ‘n rukkie.  En dan neem die onderbewussyn oor. 

 

Soos ‘n droon sit ek…clutch, petrol, clutch, briek…oor en oor en oor en oor…Toe ek myself weer kry sit ek half aan die slaap in die parkeerplek voor my werk.  Net 5 minute laat en ek dink “Dalk is ek nog hier voor my baas…”  NOT!!!

 

Stap in en die wereld lyk of Enola Gay oor hom gevlieg het en ‘n hele arsenaal van Oom Bush se speelgoed oor hom gestrooi het.  Rekenaar parte staan orals.  Muise, keyboards, skerms, bokse…die lot….met een groot doos vol kabels.  Die renovasies het veroorsaak dat alles moes skuif…en oornag het die plek ‘n gedaanteverwisselling ondergaan.  Nou staan almal soos poppe met Hitler in die hoek en maak parte skoon met Mr Min en los lappies.  En kiepie spring in…

 

Kyk…gee my ‘n balansstaat om op te rek, vra my om ‘n inkomsteprojeksie vir 4 jaar uit te werk en dit so belastingeffektief moontlik te doen…dit alles en ek’s met jou al die pad.  Stop my ‘n geel lap in die hand en ‘n bottel windowlene en ek kry so uitdrukking oor my gesig wat Forest Gump na Albert Einstein sal laat lyk.

 

Ten minste is die marteling van korte duur.  Teen 9 uur vind ek myself kniediep in krediteure.  En ek hou van baklei.  Maak die ouens behoorlik regop sit.  Jy gaan my nie uit R2 bedrieg nie, nie eers op ‘n kredietnota van R500 000 nie.

 

Tussendeur hou ek ‘n oog op die blog, loer na my seun op my selfoon, praat met my vrou oor wat ek vir aandete wil hê.

 

17:00 kom genadiglik vinnig en my motor is my hawe.  Vir die volgende 45 minute is ek weereens breindood.  Behalwe vir die 3 minute wat Whackhead Simpson my entertain met sy Dr Phil soundboard en iemand weerens vir ‘n liederlike gat vat.

 

Teen 17:45 stop ek in skemerte gehul voor my huis.  Dis die Kaap en goddank raak dit nie teen vroeër al donker nie.

 

Ek stap in en die wereld lyk asof Oom Bush sommer nou die volgende briefie van my gaan kry:

 

“Liewe Oom Bush

 

Ek is nie ‘n kommunis nie.  Nog minder weet ek van enige weapons of mass destruction.  Die enigste groot wapens wat ek van weet is die landmyne wat my honde los buite my deur, maar alhoewel jy jouself lekker sal uitkak as jy daarin trap (excuse the pun) sal ek nou nie sê dis nodig om jou vlieniers die verkeerde ko-ordinate te gee sodat hulle my voorhuis moet kom bom nie.

 

Ek laaik Mugabe niks, het boggerol met Mbeki uit te waai nie, ens…ens…ens…”

 

Die reuk uit die kombuis sus my gemoed.  Tussen bondels klere vaar ek deur tot ek die verwelkoming van die kombuis bereik en dit ruik hemels.  Niks het gekom van my gebraaide hoender wat ek wou gehad het nie, maar daardie groenboonbredie ruik verskriklik lekker.  En na my vrou my gevry het en die laitie sy pond vleis by my gekry het lê ek weg aan daardie stowe bees en bone en hou een oog opdie stomende koppie koffie wat wag.

 

En die sports begin.  Dis die eerste dag van die res van Jacques se lewe.  Ja, hy gaan vandag die eerste keer iets anders as nippeljuice kry om te eet.  Die bak Purity ryspap word gemaak.  Die ogies le groot en koekeloer oor die rand van die prêm.  En daar gaat hy! 

 

Hap sommer sulke stukke uit die lepel.  Mond gaan amper motories oop as die lepel net die bakkie verlaat.  En voor ons ons kan kry is daardie bakkie leeg…terwyl die helfte daarvan op sy gesig sit!

Dit het twee lappies gevat om sy gevreetjie skoon te kry…en ek voel hoe sak daai gevoel van De Ja Vu oor my en ek dink onverduidelikbaar aan die feit dat ek iets skoonmaak sonder Mr Min.

 

Teen 20:00 is alles stil.  Magie vol en ogies toe.  Mamma kyk met sulke leepogies na my en ek weet sy het die keer meer as net ‘n broek vol planne vir my. 

Ek wonder hoe mense dit regkry om meer as een kind te hê?  Die eerste is veronderstel om vir die res van sy / haar lewe as natuurlike voorbehoedmiddel te kan dien want soos klokslag, nes ek laitie se baba olie annekseer om sommer nou vir mamma sensueel te masseer, toe klink dit asof die Fillistyne oor die heuwels kom.  En peester gooi ‘n Pulp Fiction move en gaan van op-aandag tot drug-induced-retard in 3 sekondes flat.

 

Dis nou 21:30 en die outjie sukkel om aan die slaap te raak.  Mamma wieg hom deurmekaar en die enigste ding missing op daai boot is Jack Sparrow.  Sy het haar redes vir gou maak, maar ongelukkig laat ta homself nie voorskryf nie.  Ek dink onwillekeurig aan die feit dat ek heel waarskeinlik vanaand teen 22:30 my eie moeë oë gaan toemaak en van mamma gaan vergeet.

 

En net vir good measure gaan ek vanaand my ringtone verander want as Rihanna moreoggend weer moet sê “please don’t stop the music” gaan ek haar vinnig van die boonste vloer ‘n skielike stop op die grond gee.

 

Ja nee…more is Dinsdag…

 

Diggie

Net om die somberheid te breek het ek na gisteraand se kaskenades by my huis gedink ek moet ietsie op skrif sit.  “Bloggers Rym”

 

Vrees, my metgesel

Hierdie artikel het ek geskryf na aanleiding van die inbraak by my huis en dit was ook in die Beeld geplaas.   Ek wil nou nie die week swaarmoedig of negatief begin nie, maar het gedog dit sal verklaar hoekom ek my skuilnaam Anniegetyourgun gekies het.

 

Vrees, my metgesel

 

Ek kan nie meer glo wat ek in die plaaslike koerante lees nie!  Daar is daagliks ’n berig oor misdaad.  Dit het al aanvaarbaar geraak, amper so algemeen soos die weerberig.  Die gelukkiges het die dood vrygespring.  “Die gelukkiges.“  Ek is een van “die gelukkiges“.  Hoewel ek elke dag op my knieë gaan en die Liewe Heer dank dat ek gespaar is, stry ek ’n stryd om weer ’n normale lewe te voer.  Ek het voorheen die skokkende nuusberigte gelees, vir ’n paar oomblikke sleg gevoel en dan maar weer aangegaan met my lewe.  Totdat hulle op 9 Desember 2006 om 04:30 my veilige hawe binnegedring het en met boosheid kom besmet het.  Jou lewe verander in ’n oogwink en sal nooit weer dieselfde wees nie.  Skielik het die motor in die motorhuis nie meer betekenis nie, of die huisverbeterings, of die nuwe meubels.  Dis als sinneloos en het geen werklike waarde nie.  Die feit dat jy die son sien opkom en die voëls hoor sing maak meer saak.  Die feit dat jy kans gegun is om vir jou geliefdes te sê hoe lief jy vir hulle is, tel baie meer.

 

Dit was ’n Vrydagnag en my vriendin het by my oorgeslaap.  Die honde het om en by 04:00 in die oggend vreeslik begin blaf en ek het ‘n paar keer opgestaan, maar niks ongewoons gesien nie.  So teen 04:30 het my een hond binne die huis vreeslik tekere begin gaan.  Toe ek in die voorportaal kom waar sy staan en blaf, sien ek die swart figuur gebukkend sit tussen die sitkamer en tv-kamer.  Die skok en ongeloof kan nie in woorde beskryf word nie, gevolg deur rou doodsangs.  Ek storm na die kamer en my gille skeur deur die stilte.  Die eerste skoot klap en mis my rakelings.  Ek haal die kamer, maar my vriendin storm verskrik uit en sy word raakgeskiet.  Sy val en stamp terselfdertyd die deur in hulle gesigte toe.  Ek duik vir die paniek-knoppie en die alarm begin oorverdowend skel.  Ons staan net vir mekaar en kyk en wag … huil … en wag.  Genadiglik vlug hulle.  Ek sien met skok en ongeloof hoe haar naghemp al rooier word en besef nou eers sy is raakgeskiet.  Sy weet dit nie eers nie.  Die gewapende reaksie-eenheid aan wie ons gekoppel is (ADT) is binne 2 minute daar.  Die Polisie 2 ure later.  My vriendin het wonderbaarlik net ’n vleiswond  en sy kry steke by die hospitaal, maar die letsels wat in ons siele nagelaat is, is blywend.

 

Ekstra sekuriteit word geïnstalleer.  Mense sê jy is darem nou veilig en nou kan jy vergeet, jou regruk en aangaan.  Dis nie so maklik nie.  Net diegene wat self soortgelyke doodsangs ervaar het weet van die versmorende vrees as die son sak, die angs-aanvalle in die oggend-ure.  Jou brein weet hulle kan nie meer so maklik inkom nie, jou onderbewussyn weet net van die donker figuur wat in die skaduwees skuil en sy kans afwag.  Jy verbeel jou selfs jy sien hom in die gang afkom.

 

Ek doen ’n skietkursus, koop ’n pistool en doen aansoek vir ’n vuurwapen-lisensie.  Die agterstand is 1 jaar, hoor ek by die Polisiekantoor.  Ek moet ’n jaar (of langer) wag om wettig ’n wapen te besit terwyl duisende kriminele met ongelisensieerde wapens loop en moor.  Ek gaan vra vir ’n afskrif van my saak by die Polisiekantoor om dit aan te heg as motivering, en kom agter dat die saak op die rekenaar van “poging tot moord“ na “gewapende huisbraak“ verander is.  “Ekskuus“, sê hulle, “dit was seker iemand wat dit verkeerd in die rekenaar ingevoer het.  Ons sal dit regstel.“  Is dit wat gebeur het of word dit doelbewus verander om die statistieke beter te laat lyk?  Mens kan maar net wonder.

 

Ek lees in die koerant van bejaardes wat op ’n plaas oorval is en ure geteister is totdat die oom uiteindelik doodgeskiet is en die tannie die hele nag langs die plaasdam geskuil het uit vrees dat hulle gaan terugkom soos hulle belowe het.  Hoe lafhartig kan ’n mens wees om ou, weerlose mense te mishandel en soos diere dood te skiet?  God slaap nie.  Die tannie se hartseer oë spook by my.  Die Regering speel volstruis en steek kop in die sand en het dan nog die vermetelheid om te sê dat die misdaad aan die afneem is.  Verder gaan alles oor die 2010 Sokker-wêreldbeker, wat belangriker geword het as die Suid-Afrikaanse  landsburgers se veiligheid.  Solank die wêreld daar buite net dink als hier is bakgat.  Bo blink, maar onder stink.  Ons stuur af op ’n ramp, en politici slaap rustig voort in hulle veilige huise.

 

Daar blaf die honde weer, en my hart kom sit in my keel.  My hand soek outomaties na die paniek-knoppie wat nou permanent om my nek hang.  Vrees het my metgesel geword…