Die speserykriek mantra

Kyk. Ek het nog nie alles in my lewe gesien nie. Maar vandag is ek een stappie nader aan daardie doelwit. En nou wil ek die prentjie so kleurvol moontlik probeer skets.

Ek sit vandag, so rondom 1pm, af bank toe met die naweek se takings. Dis nie my gunsteling tydverdryf nie want ek is vas oortuig dat ek, teen my huidige salaris, seker die land se bes betaalde bode is. Veral wanneer die staf by die werk so besig raak dat ek noodgedwonge met onbenullighede opgesaal word.

Ek daag op in FNB en staan vir so minuut voor ek geroep word na die toonbank toe. Net voor ek my eerste tree gee let ek skielik hierdie fenomeen op.

Die ou staan by dieselfde counter as waantoe ek op pad is. Hy’s geklee in ‘n leerbaadjie, ‘n serp so dik soos ‘n handdoek, hare so half verwoes as gevolg van vier maande se dra sonder borsel of sjampoe, ‘n bokbaard wat my herinner aan afrikaanse akteurs uit die 70’s, ringe in elke oor – genoeg om my ma se gordyne aan te kan hang, ‘n broek met genoeg sakke om die reserwebank mee te kan leeg dra en tekkies wat skynbaar vier groottes te groot is – sulke bote van pote. Maar hyself is so maer, sjoe! Ek het altyd gewonder wat my pa met “speserykriek” bedoel het as hy na maergatte verwys het, maar vandag het ek vir die eerste keer verstaan! As hy sy arms moes optel het hy deur sy eie poephol geval. En hy kon nie ouer as 23 wees nie!!

Nou hier staan die koddige wetter nou en sy oge is toe. So of hy staan staan ‘n uiltjie knip. Skielik kom daar so snaakse klank uit sy keel, met sy mond toe, en ek dog toe: “Wag, wag, wag , wag…lat ek eerder so tree of drie verder weg staan want hy kots my nou vol en dan begin sy kop in die rondte draai!”

Nes ek dink die ou begin beheer van homself kry begin die hande in sulke stadige sirkelbewegings deur die lug swiep. En hy’s stadig af op sy hurke en dan weer op op een been….dan weer af en die roggel / moan geluide kom weer uit die keel.

Toe begin ek rondkyk vir die kameras. Ek verwag Leon Schuster gaan nou enige oomblik hier om die skerm gesuiker kom en my kom koggel! Maar helaas, geen Leon, en ook geen einde aan die ou se epileptiese aanvalle nie!

Skielik kom hy tot bedaring en neem twee tree na die counter toe. Vat sy pen en skryf so twee sinne in sy boekie, neem twee tree terug, sak af op sy hurke en daar gaat die donerse voete! So ‘n “riverdance” move wat skrik vir net mooi boggerol…maar in slow motion!

Nou kyk, by die tyd sluk ek my lag dat ek eintlik sooibrand kry. Ek sien die girl agter die counter byt al haar lip des moers net om nie ‘n sweempie van ‘n glimlag te wys nie.

Ek kon myself nie help nie. Toe ek my strokies vat, so 30 minute na ek daar gaan staan het, is die ou steeds besig met sy yoga / mantra / epileptiese aanvalle / stuiptrekkings en sy vier noot klankontsnappings uit die keel. Ek moes hom ‘n vraag vra!

“Sorry, Boet, is jy OK?”

Die oge gaan so stadig oop… “D-u-u-u-u-de! Don’t interfere with my chakra, m-a-a-a-a-a-n!”

Ek kry so glaserige uitdrukking in my oë en wonder so in die uitstap hoeveel keer hy al gemoer was in sy lewe. Ek weet mos, wees net so bietjie anders en rook iets anders as Chesterfield of diè se boeties en ander moer jou mos gou gou. En ek wonder toe sommer ook hoe vinnig ek die nommer van Shady Pines in die hande kan kry…hy’t dit broodnodig!

“Maklik was dit nie” – Phibbie

Maklik was dit beslis nie. *…aangestuur deur Phibbie…*

Nou ja soos almal weet is die trekkery noual innie begin van Julie af “my baby” gewees. Net voor ons trek die kraak ek beentjie in my enkel met die kampery. Ons kom soek huis met daai enkel en al. Week voor ons trek moet ek my toonnael verwyder. Storie natuurlik op sy eie.

So 3 weke voor die aanvanklike trek begin ek pak. Ek laat die bediende 3 bokse pak. FFS ek moes dit oorpak. Ek weet toe as ek daai ongeveer R15 000.00 wil spaar sal ek als moet pak. Nodeloos om te sê 132 bokse later is my rug amper af, my geduld in sy moer in en die dag het aangebreek. Pappie is ook by die huis en dinge gaan net nie maklik nie. Ons skree op mekaar soos plotmeide, maar pak doen ons. Die laaste 3 bokse moer ek sommer net als in.

Nou wag ons vir die treklorrie. Naderhand 10 uur. Ek bel hulle sê 1 uur die middag. Eenuur kom en nog niks, maar ek probeer nie my laaste bietjie geduld verloor nie en uiteindelik half 2 kom die trok. Ek gee daai trok net een kyk en die volgende oomblik ruk ek soos ek snik. Pappie kan ek sien issie happy nie en ek staan in die straat en huil soos ‘n donnerse babatjie en hy wil weet hoekom. Skielik is die besef, dis nou finaal en al die harde werk in Richardsbaai is verby.

Pappie gee daai trok een kyk en sê vir my die ding issie groot genoeg nie. Ek bly maar stil want ek weet ek sallit nou helemal loose met iets en iemand. Intussen word daar nou vir die laaste week gebou, geverf en teels gelê. Ek word beproef om elke hoek en draai.

Ek pak al die vleis in cooler bokse en daar bly nou 20 klein pakkies oor. Hulle laai die vrieskas, maar ek kom die kombuis binne en hier le die vleis op die wasbak. Ek dink toe nee man ek het als gepak en toe sien ek maar my goeie ingilse fok, dis die vleis wat innie vrieskas was. Kyk maar julle moet mooi verstaan, my woordeskat in Zulu, Afrikaans en Ingils het so verbeter ek het sommer my eie woorde begin maak ook. Ek skree erger asse plotmeid. Pappie hoor my tot by die garage wat so 250m van die woonstel af. Ek wil die man wat die trappe wil verf bliksem want hy jaag my aan. Als borrel sommer oor toe teen daai tyd.

Vyfuur die aand toe is die trok vol en die helfte van ons goed nie gelaai nie. Pappie bemoerd soos niks. Ons is moeg. Die goed wat agterbly moet nou na die garage toe. EK huil nie eers meer nie, eks te moeg. Ons maak toe gou die woonstel skoon, was die vloere etc etc. Kom eers na 6 die aand daar weg. Intussen stuur die agent wat ons woonstel verhuur sms, wanneer is die woonstel beskikbaar. Ek sê ek wil die vrou bel, pappie sê los ek sallit want ek sien jys gladnie lekker nie.

In elk geval Donderdag vroeg is ons op pad na ons nuwe bestemming, Witrivier toe. Elfuur word ek gebel, die trok is hier, kan hulle aflaai, maar pappie sien toe hy moet dit eerder hanteer. Ons jaag, hy met sy Polo TDI en ek met my Tazz. Fok en hy ry dat die kak spat en hoe meer moet ek jaag en die ou tazzie wil ook nie langer toe hoer ons gaan nie. Maar mettie afdraande jaag ek amper verby Pappie. Hy verloor my in Nelspruit oppe manier. EK beland voor hom in Witrivier. Hoe weet ek nou noggie. Hehehehehehhe. Dit was darem goeie gevoelentheid.

Ons word belowe ons ander meubels sal Maandag en Dinsdag hier weer. Na vele beloftes, kak praat en sommer pleinweg lieg, kom die meubels 2 weke later hier aan 7 uur die aand.

Intussen gaan ons die Sondag oppe uitstappie en ek breek 2 beentjies in my gewrig. Pappie issie happy nie en ek pyn die hele donnerse tyd. Na 2 sessies waarop gips aangesit was, sit ek nou met armstut. Baie beter. Die kom nou die 24ste September af en daarna moet ek gaan vir X-strale om te kyk of penne nodig is. Dit beteken nog verdure 2-3 maande by die huis. Ek weet nie of ek moet kla of bly wees nie. Hehehehehehehe.

Intussen mettie gips/stut etc pak ek nog steeds uit mettie hulp van my groene van Richardsbaai. Ek kom tot ‘n moerse besef, groenes weetie van reguit nie. Eks frustreerd en elke dag verbeter my taal gebruik steeds.

Gelukkig als nou uitgepak en nou vat ons die naweek die groene trug. Fokkit en daar word my hond gebyt deur moerse boerbul. Ek bebliksemd en baie upset. Maar sy nou okay.

Vanmore moet die nuwe groene van hier begin werk, sy daag nie op nie. Ek vloek nou nie eers meer nie. Teen 10 uur is my huis skoon en ek moet net die naweek se skoon klere wegpak. Sal more die donnerse wasgoed tackle.

Nou ja soos ek al voorheen gese het, ek wil daai donnerse Murhpy in sy moer stuur want eks moeg vir hom en sy truuks.

Jammer dis so lank, maar dit langer gevoel in die werklikheid. Ek sal fotos stuur van my skeppings hier in Witrivier wanneer ek al my proggies weer gelaai het.

Love me or hate me.The choice is yours.

Die volgende wat ek gaan kwytraak sal baie van julle laat galbraak, maar ek voel `n vis, dis my lewe.Hier is mense op die blog wat nie kinders het nie of smag na een, maar ek dink jy is beter af so.Oor die algemeen is ek nie mal oor kinders nie, dit het eers laat in my lewe so verander, nadat my dogter klaar was met skool in 2005.

Kinders word vandag teenmekaar opgesweep en hulle word in jou keelgat afgedwing om te kyk hoe presteer so en so.Sommige familielede sal my bel of sms en se kyk die of die sportkanaal my laaitie neem deel aan so of so `n sportsoort. Met alle respek hou dit vir jouself want ek stel nie belang om te kyk nie, fokkin regtig nie.My dogter presteer ook en het ook op skool gepresteer en ek hou dit vir myself en brek nie die wereld vol daaroor nie. Ek gesels met kinders en speel ook lekker saam met hulle.

Vrydagaand sit ons in Spur, net ek en my vrou.Eers gaan sit ons langs die “Chico“ dis buite waar die kinders is, nee fok dis `n geraas en geremoer.Ons het net sowat `n minuut gesit, nog geen kelner het ons bedien nie.Meteens gryp `n sewe/agt jarige seuntjie `n steakmes op die tafel reg langs ons.Hy hardloop in die rigting van die Chico en reg in `n kelner vas.Sowat drie meter van my af en die steakmes in sy hand steek hom bokant die oog , `n vieslike gat , seker so groot soos `n vyftigsent stuk.Skielik toe hy al die bloed sien skreeu hy soos `n besetene, ek spring op om te help.

Die kelner se denim is toe al vol bloed en dit spuit, oor die vloer en op `n lee tafel langs ons. Ek gryp klomp servette op `n tafel agter my waar ander mense sit en die toneel geskok gade slaan.En druk dit op die wond.Ek kry nog `n klomp en se die een vrou wat toe help moet drukking op die wond sit.Ek gaan gou die eienaar roep om noodhulp te kry. Met hande vol bloed loop ek deur die gange en kry vir Jaques.Hy het `n brandweer vriend daar by hom met al die nodige eerstehulp kennis.Hulle vat die seun na `n vertrek om vas te stel hoe diep die mes in, is met `n steeds gillende kind. Ons verneem toe van die seuntjie se ouma dat sy hom en sy boetie die aand Spur toe gebring het, terwyl sy ma en pa alleen uit is vir die aand.Die rede dat hy die mes gevat het is om `n ander seun wat met hom skoor gesoek het by die Chico wou gaan skrik maak met die mes.Moontlik is `n tragedie voorkom waar hy die ander seun kon steek.Gelukkig is die wond net tot teen die been en was dit die tande van die mes wat so grootgat in sy kop gesny het.Hy het toe gaan steke kry by die hospitaal.

Ek gaan was toe my hande en met `n naar gevoel op my maag, kom ek weer by ons tafel en sien hoedat hulle die bloed op-mop van die vloer af. Ek en my vrou staan toe op en gaan staan weer buitekant en vra dat ons liewer binne wil sit. So paar minute gewag en gaan sit toe binne , vanwaar ons sit kon ons deur die venster almal bekyk wat buite wag om in te kom.Ons hou `n paartjie dop wat daar aankom met vyf kinders, van sowat drie maande oud tot so 13 jaar oud. Fokkit die ouer moet hier keer, dan daar.Toe haak my vrou af en se nee wat sy dink kinders is net `n ontwrigting in mens se lewe.

My een swaer wou he ons moes so twee naweke gelede na hulle twee kinders kyk (ses jaar en die ander een amper twee jaar ), want sy vrou werk die naweek en hy wil gaan paintball speel.My vrou het gese nee ons het iets aan die naweek.Onmiddelik was hy op sy perdjie.Sowat `n maand gelede het die twee kleintjies ook by ons gebly vir die dag.Die kleintjie is nog nie gepotty train nie.Maar hy het haar by ons gelos met net een doek.Later het hy saam met ons kom braai. Hy het net weer twee doeke gebring.My vrou moes naderhand vir die kind `n handdoek opgesit het.Nou groet die dikbek swaer ons nie en is ons alles wat kak is.Maar ou dik swaer jy wou hulle he , so kyk jy na hulle.

Ek stem saam met haar, op my ouderdom van 44 en my vrou 41 is ons so allergies vir kinders.Ek en my vrou geniet mekaar nou kwaai. Kinders is net `n ontwrigting, beslomernis en kos mens net geld.Maar gelukkig wil my dogter nie kinders he voordat sy dertig is nie, sy is nou 21.Miskien sal ek dan reg wees om oupa te wees, maar ek weet verseker ek sal `n moerse nice oupa wees en my kleinkinders sal mal wees oor hulle oupa.Maar ook dan kan jy hulle vir die ouers teruggee en se, de nou is dit weer julle beurt.